Bloemhof Brokkies 02/2025
Dit was 'n besige eerste kwartaal! Bloemhof is vanjaar tweede op die WKOD se lys van beste skole, daar is nuwe opvoeders in ons klaskamers en ons deel nuus van 4M se atletiek, swem en skaak.
32ste 4M-Atletiekbyeenkoms: Bloemhof blink uit!
TWEEDE PLEK; DRIE TOP BAANATLETE
Desiré Coetzee
Die jaarlikse 4M-atletiekbyeenkoms tussen die Hoër Meisieskool Bloemhof, Rhenish Girls' High, Paarl Girls’ High en La Rochelle Girls’ High het vanjaar vir die 32ste keer plaasgevind. Hierdie byeenkoms, wat in 1992 deur mev. Leona Amoraal (’n Bloemhof-ouer) geïnisieer is, is een van die grootste atletiekkompetisies vir dogterskole in die land en bly ’n hoogtepunt op die sportkalender. Ons dra graag die dag se prestasies aan mev. Amoraal, wat op 11 Februarie 2025 oorlede is, op.
Bloemhof se atlete het weereens uitstekend presteer met ’n totaal van 10 eerste plekke, 13 tweede plekke en 14 derde plekke.

Annemie du Plessis (o.14) is as die top baanatleet in haar ouderdomsgroep aangewys nadat sy die 90m-hekkies gewen het en tweede in die 100m geëindig het. Sy het ook die dag se beste vertoning op die baan gelewer deur die meeste punte op die ASA-tabel aan te teken. Daniela Viljoen (o.17) en Nell Basson (o.19) is onderskeidelik as die top baanatlete in hul ouderdomsgroepe gekroon. Daniela wen beide die 400m en 800m; Nell is eerste in die 200m en tweede in die 100m én 400m.
Ander leerders wat eerste plekke inpalm is:
o.14’s: Nikki Janse van Rensburg (spiesgooi) en Emili Wessels (gewigstoot)
o.17’s: Lisa Steenkamp (1500m)
o.19’s: Veerle van Heerden (100m hekkies) en Simone van der Merwe (1500m en 800m). Die o.19-aflosspan het ook die eerste plek verower.

Onder luide toejuiging en passievolle ondersteuning vanaf die paviljoen is die atlete tot hoër hoogtes aangespoor. Ten spyte van die hittige toestande het susterskap, spangees en baadjietrots geseëvier en is Bloemhof as die naaswenners gekroon. Vanjaar se puntestand was:
Girls’ High – 578 punte
Bloemhof – 372 punte
La Rochelle – 275 punte
Rhenish – 145 punte
Baie geluk aan al ons atlete, afrigters en spanbestuurders met ’n uitsonderlike vertoning!









Nog 4M-nuus: Swem en skaak
O.19’s SWEM ’N TWEEDE PLEK LOS; EERSTE 4M-SKAAK GEHOU
Stephan Meyer
Bloemhof was vanjaar die gasvrou vir die 4M-swembyeenkoms wat op 25 Ferbruarie gehou is. Die heel eerste 4M-skaakbyeenkoms is ook gehou – ’n kompetisie wat deur die HMS Paarl voorgestel om tydens die swemgala plaas te vind en nog ’n baan vir vriendelike kompetisie tussen die vier meisieskole van die Boland te bied.
Die swemgala is, aldus me. Maré Bosch, “bowenal ’n viering van susterskap. As jong vroue staan ons leerders saam – nie net as mededingers nie, maar as vriende wat mekaar ophef en inspireer.”









Vir die 19de agtereenvolgende jaar lig ons susterskool Rhenish die 4M-swemtrofee, en Girls’ High, is die naaswenners. Bloemhof eindig in die derde plek, maar die o.19-swemmers eindig tweede in hul ouderdomsgroep.
Die volledige uitslae is soos volg:
Rhenish Girls' High School (603,5 punte)
Paarl Girls' High School (591,5 punte)
HMS Bloemhof (379 punte)
HMS La Rochelle (252 punte)

In die skaakwedstryde het elke skool vyf spelers gehad wat elk drie rondtes gespeel het. Rhenish slaag ook daarin om (net-net) die oorwinning in te palm. Hulle wen 11 van hul 15 potte, terwyl Girls' High tweede eindig nadat hulle 10 borde wen en in een gelykop speel.
Al is ons vanjaar in die laaste plek, is ons trots op Noreht Nieuwoudt (gr. 9), Vera van der Merwe (ons skaakkaptein in gr. 12), Mishan Jacobs (gr. 10), Leandi Roos (gr. 12) en Linda Pretorius (gr. 10) wat die nuwe 15-minuut-formaat aangedurf het. Die horlosie was uiteindelik ons grootste teenstander...
Vera en Mishan wen hul wedstryde teen La Rochelle, en Linda se wedstryd teen Rhenish eindig gelykop – hulle teken dus Bloemhof se 2,5 punte aan. Die finale puntestand was:
Rhenish Girls’ High School (11 punte)
Paarl Girls’ High School (10,5 punte)
HMS La Rochelle (6 punte)
HMS Bloemhof (2,5 punte)









Bloemhof palm talle toekennings in
GESKIEDKUNDIGE TWEEDE PLEK OP WKOD TOP 20-LYS
Stephan Meyer
Die Hoër Meisieskool Bloemhof het na aanleiding van die 2024 NSS-uitslae talle toekennings ontvang en is onder meer aangewys as die tweede beste skool op die WKOD se top 20-ranglys.

Ons skoolhoof, me. Maré Bosch, het op 31 Januarie die WKOD se jaarlikse prysuitdeling by Leeuwenhof, die premierswoning in Kaapstad, bygewoon en vier toekennings namens die skool ontvang. Buiten die gesogte posisie as een van die Wes-Kaap se topskole, word Bloemhof vir die volgende vereer:
Bloemhoffers behaal die hoogste gemiddelde punt vir Afrikaans Huistaal tydens die 2024 NSS-eksamen
Ons ontvang ’n toekenning vir die bevordering van tegniese vakke soos IGO
Ons ontvang ’n toekenning vir volgehoue NSS-slaagsyfers van meer as 95% oor vyf jaar.
Bloemhof het in die verlede al die derde posisie beklee, maar dis die eerste keer dat ons tweede op dié lys is. Ons Afrikaansvakspan het die leerders tot die hoogste gemiddelde punt vir Afrikaans Huistaal in die Wes-Kaap (en die tweede hoogste in SA!) gelei – veels geluk!

SOS-TOEKENNINGS
Die Skole Ondersteuningsentrum (SOS) het ook tydens hul merieteaand op 8 Februarie ons skool met die meeste vaktoekennings (9) vir akademiese uitnemendheid vereer. Spesifieke erkenning in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Rekeningkunde, Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Ekonomie, Ingenieursgrafika en -ontwerp, Lewenswetenskappe en Inligtingstegnologie is aan Bloemhof oorhandig.

Met ’n gemiddeld van 3,82 A-simbole per leerder, is Bloemhof deur die SOS as die topskool in Suid-Afrika aangewys – dit sluit ook Engelse staatskole en privaatskole in. Verder is ’n spesiale toekenning aan ons voormalige skoolhoof, me. Wilna van Heerden, oorhandig. Sy ontvang dié eretoekenning vir haar uitsonderlike bydrae tot leierskapontwikkeling in Afrikaanse skoolgemeenskappe in samewerking met die SOS.
Pretdag en pret dae
GRAAD 9-PRETDAG EN GRAAD 11-KAMP IN DIE KOLLIG
Stephan Meyer
Om pret te hê, is een van Bloemhof se strategiese doelwitte, want “skool” moet ook “lekker” wees. Jaarliks wag daar in die eerste kwartaal twee van dié lekker dinge op ons graad 9’s en graad 11’s.
Graad 9-pretdag
“Die doel van die graad 9-pretdag is om die dames in ’n ander omgewing met mekaar te laat meeding,” sê me. Betti Erasmus, die graad 9-graadhoof. “Alles is daarop gemik op mekaar beter te leer ken en net die dag te geniet.”
Die graad 9’s is op Vrydag 24 Januarie volgens die alfabet verdeel sodat leerders nie noodwendig saam met hul maats in ’n groep is nie. Die aktiwiteite het onder meer die opsê van krete, die baie gewilde minute-to-win-it (waar deelnemers net een minuut kry om te wen) en waterkaskenades ingesluit.
Vir Liza Diederichs was dit “een van die opwindendste dae van my graad 9-jaar sover. Daar was speeletjies en waterkaskenades waarvoor geen persoon kon nee sê nie”. Dit word deur Danike Fourie beaam: “Pretdag was vir my ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie. Ek het dit baie geniet en wens dat ek weer so ’n lekker tyd saam met my graad kan spandeer.”
Die graad 9’s se registerpersoneel het ’n belangrike deel van die dag uitgemaak, en ons sê vir me. Anél Joubert, me. Mieke Matthee, me. Monique Taljaard en me. Elzabé van der Watt baie dankie. “Die dag word regtig net in een woord opgesom,” meen me. Erasmus, “en dit is ‘PRET’!”
Graad 11-kamp
Die Graad 11-kamp, of Senior Kamp soos dit ook genoem word, is ’n tradisie wat in relatiewe geheimhouding gewortel is.
Vanjaar het die graad 11-groep, onder die bekwame leiding van me. Elana Kruger (die graadhoof) en haar span registeronderwysers (me. Hanneke van der Merwe, me. O’Dine Lategan, me. Anneke van der Merwe, en dr. Marcelle Geldenhuys) van 22-24 Januarie by die ████████ in die █████████████ naby ████████ gaan kamp. Verskeie aktiwiteite soos ██████, ████████████████, ███ en ███████ het gesorg dat die leerders nie net pret het nie, maar ook die tyd kon gebruik om waardevolle lewenslesse te bespreek, te oordenk en te internaliseer.
“Die kamp bied nie net die geleentheid vir die leerders om mekaar beter te leer ken nie, maar ook om jouself beter te leer ken en om potensiële leiers die geleentheid te gee om tydens die talle aktiwiteite voor te vat,” verduidelik me. Kruger. Daar word jaarliks gepoog om altiwiteite aan te pas en so aan te bied dat die betrokke jaargroep kan leer en geniet om ’n manier wat spreek tot die spesifieke jaargroep.”
Verskeie 4M-krete het hul oorsprong by die Graad 11-kamp, waar elk van die groepe saam aan ’n kreet skryf.
“Vir drie dae lank speel jy soos ’n kleintjie saam met jou medesussies. Ons leer mekaar ken, baie beter as vantevore. Ons vorm nuwe vriendskapsbande en maak herinneringe wat ons lewenslank sal bewaar,” sê Danika Smit, wat in die groen span was wat as die wenners gekroon is. “Die kamp is ’n belewenis wat elke Bloemhoffer moet ervaar en voluit moet geniet. Hierdie stories gaan ons eendag vir ons kleinkinders vertel.”
Vir Cailey Haggar is daar net een manier waarop sy die kamp kan beskryf: “Met lirieke uit ons graad se geliefde kamplied: Graad 11-kamp, drie dae voel nie meer so lank.”
Ontmoet ons nuwe opvoeders
TWEE OUDLEERDERS IS NOU VOOR IN DIE KLAS
Rentia-Marié Meyer

Ons het vanjaar ’n handjievol nuwelinge in die Bloemhof-span bygekry – onder meer drie nuwe opvoeders. Twee van hulle is boonop oud-Bloemhoffers – me. Lida de la Bat was in 2013 in matriek, terwyl me. Mieke Matthee in 2020 Bloemhof se hoofdogter was.
Me. De la Bat, wat as onderwyser by Hoërskool Stellenbosch gewerk het, sluit by die Afrikaansvakspan aan, maar onderrig ook vir die juniors Duits. Me. Matthee het verlede jaar by Bloemhof geproef en gee Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Wiskundige geletterdheid en Aardrykskunde. Me. Dana Krimchanski, ook vars uit die universiteit, vul ’n moeilike rol: As Engelssprekende is die English classroom vir haar glad nie vreemd nie, maar in die Geskiedenisklas wys sy dat sy volkome tweetalig is.
Ons het ’n bietjie met elkeen gesels om meer oor hulle uit te vind, en hulle ervaring by Bloemhof tot dusver.
Wat het jou geïnspireer om ’n onderwyser te word?
My familie is vol onderwysers, so van kleins af het ek daarna uitgesien om eendag ook ’n onderwyser te word. Op skool het ek self onderwysers gehad wat my net nog verder geïnsprireer het. Hulle het my ook gewys watter groot impak ’n mens as onderwyser op ’n kind se lewe kan maak.
Jy is ook ’n Old Girl. Wat was jou eerste indrukke van Bloemhof “aan die ander kant”, sover?
Ek wens ek kon teruggaan in tyd en net toe al besef wat ’n onderwyser agter die skerms ter wille van leerders doen. As ’n leerder sou ek dit graag meer wou waardeer.
Wat is die beste stukkie raad wat iemand jou al gegee het? (M.a.w. lewensleuse)
Iemand het op ’n dag vir my gesê: “Dis lekker om mens te wees, maar dan moet jy ’n lekker mens wees”, en dit het my altyd bygebly!
Wat is jou wens of hoop vir jou Bloemhof-reis vorentoe?
Ek sien daarna uit om ’n band met my leerders te bou, deur hulle hele skoolloopbaan heen. Ek is ook opgewonde om betrokke te wees en sodoende aan Bloemhof terug te gee vir alles sy vir my gedoen het.
What inspired you to become an educator?
I love people and enjoy seeing them grow into the best version of themselves. To help students think critically and express themselves is also a big passion of mine.
What are some of your first impressions of Bloemhof thus far?
It is a beautiful school, filled with kind and friendly people. I feel very welcome and at home, and look forward to my time here.
What is the best advice someone has given you, that has become your life motto?
Always make sure you have an anchor to hold onto, by surrounding yourself with people who lift you up rather than bring you down. It can be a saving grace in times of turmoil.
What are you looking forward to for your Bloemhof future ahead?
I am looking forward to getting to know everyone, forming relationships with staff and students. There are also plenty of exciting events happening throughout the year, and I cannot wait to be a part of it!
Wat het jou geinspireer om ’n onderwyser te word?
My eie Afrikaansonderwyser! Ek voel ook ek kan met kinders vereenselwig, en sê altyd ek probeer hulle meer van die lewe leer as net selfstandige naamwoorde.
Jy is ’n oud-Bloemhoffer, maar wat is jou eerste indrukke van Bloemhof “aan die ander kant”, sover?
Dit is presies soos ek gedink het dit gaan wees! Ek is beïndruk met hoe glad alles verloop, en almal is ook baie vriendelik.
Wat is die beste stukkie raad wat iemand al vir jou gegee het, wat deel van jou lewensleuse geword het?
Mense hou baie meer van jou as jy jouself is.
Wat is jou hoop of wense vir jou Bloemhof-reis vorentoe, iets waarna jy uitsien?
Ek hoop om teen die einde van die kwartaal almal se name te ken! Ek hoop ook om ‘n bydrae tot die sukses van die skool te lewer.
In die volgende uitgawe van die nuusbrief deel ons onderhoude met die nuwe admin- en sportpersoneel.
Ontmoet ons nuwe adjunkhoof
MEV. SANTJIE VAN VUUREN AANGESTEL AS TWEEDE ADJUNKHOOF
Rentia-Marié Meyer
Die besluit om ’n tweede adjunkhoof aan te stel, was lank reeds vir Bloemhof ’n behoefte en mev. Santjie van Vuuren is vanaf 1 Desember 2024 in dié pos aangestel. Sy is geen vreemdeling vir menige Bloemhoffer, ouer en Old Girl nie. Hieronder verduidelik sy kortliks wat dit behels, en die veranderinge wat dit in haar daaglikse bedrywighede meebring.
Die beheerliggaam het dit verlede jaar nodig gevind om ‘n interne adjunkhoofpos te skep. Wat het u gedink toe dit bekendgemaak is?
Aangesien ek reeds 10 jaar op die bestuurspan van die skool is, was die behoefte daaraan vir my verstaanbaar. Om ‘n skool wat so omvattend soos Bloemhof funksioneer, suksesvol te bestuur, het die skoolhoof hulp nodig. Ek het besluit om die aangename geleentheid aan te gryp en is baie dankbaar dat ek uiteindelik vir die posisie aangewys is, en dat die beheerliggaam genoeg vertroue in my vermoë gehad het om my in hierdie posisie aan te stel.
Waarna sien u die meeste uit in u nuwe rol - iets wat u opgewonde maak?
Ek sien uit om meer oor skoolbestuur te leer, en sien my rol as ondersteunend ten opsigte van die skoolhoof en adjunkhoof. Ek is ook opgewonde om my vaardighede en menseverhoudings tot voordeel van die skool aan te wend.
Is daar sover enige uitdagings, of enige verdere uitdagings wat u voorspel moontlik met adjunkhoof-wees sal gepaardgaan?
Ek dink dit is ‘n uitdaging vir my om die balans wat ons graag wil bewerkstellig tussen die lekker van skool asook al die moontlike aktiwiteite wat daar vir die leerders is, aan die een kant, en dan die akademie, aan die ander kant, na te streef. Dis ‘n voortdurende uitdaging! Die 150-feesjaar is natuurlik ook iets wat voorlê, maar dit is gelukkig ‘n lekker uitdaging.
Wat is die grootste aanpassing sover tussen u vorige rol en dié van ‘n adjunkhoof
Dat ek nou meer uit die klas moet wees, is vir my moeilik. My eerste liefde is en was nog altyd klasgee en om met die leerders op ‘n persoonlike vlak te werk. Ek het nou ‘n geleentheid om op ‘n ander vlak te dien, maar dit bly tog vir my belangrik om die leerders en hulle behoeftes te prioritiseer.
Gees so helder soos die son
VUURWARM GEESDRIF & BAADJIETROTS BY PRESTIGE ATLETIEK
Nicki Serfontein

Prestige 2025 was warm. Nie net in hoe die son genadeloos op Dal Josafat se gras en tartan gebrand het nie, maar ook in die manier waarop Bloemhof se gees deur dit alles bly vlamvat het. Met temperature wat tot 39°C gestyg het, het BloemRoos steeds in skoolbaadjies, met vlae in die lug en stemme wat deur die stadion weergalm, ons skool se naam met trots gedra.
Die dag het soos volg uitgespeel:
Paarl Girls’ High/Boishaai – 946 punte
Paarl Gimnasium – 869 punte
Bloemhof/Paul Roos Gimnasium – 766 punte

Daniela Viljoen (gr. 11) is aangewys as die beste senior baanatleet in die afdeling vir dogters, ’n ongelooflike prestasie wat haar talent en harde werk weerspieël.
Van die eerste oomblik af was dit duidelik: hierdie byeenkoms gaan nie net oor punte op ’n telbord nie. Dit gaan oor trots. Dit gaan oor die skool wat jy op jou bors dra en die mense langs jou wat net so hard soos jy skree. Dit gaan oor die voete wat op die paviljoen dreun, die hande wat ritmies klap en die energie wat met elke kreet bou tot iets groter as net ’n skare.
Selfs toe die dag lank begin raak en die son fel op almal skyn, het Bloemhof nie gestop nie. Daar was nie ’n oomblik van stilte nie, net onblusbare gees, deursettingsvermoë en daardie onmiskenbare Bloemhof-trots wat nie net gesien nie, maar gevoel kon word.
Ons het dalk nie die meeste punte op die telbord gehad nie, maar op die paviljoen, in die harte van elke BloemRooser en in die atmosfeer van die dag was dit duidelik: Bloemhof se gees is onbreekbaar. En dit is iets wat geen temperatuur kan smelt nie.
PRESTIGE DEUR DIE OË VAN DIE BLOEMHOFFERS
Baie dankie aan die Bloemhoffers wat foto’s van Prestige ingestuur het. Dié foto’s is deur Chanika Arnolds, Jana de Kock, Annemie du Plessis, en Suné Nel geneem.









Feestafel, Feesmaal, Feesjaar!
Bloemhof se 150ste bestaansjaarvieringe by die Feestafel ingelei
Lida de la Bat
Bloemhof se 150-feesjaar het op 15 Februarie 2025 met ’n glas vonkel en ’n trekklavier begin toe gaste by ’n Italiaanse feestafel kon aansit. Meer as 400 belanghebbendes – wat ouers, oudskoliere, onderwysers, en ander vriende van Bloemhof ingesluit het – het rondom dié langtafel gekuier om hierdie spesiale jaar saam met die skool te vier.
Die magiese atmosfeer is reeds vroeg geskep met lede van ’n Italiaanse sirkus wat vir gaste hul fortuin uit ’n glasbal laat kies het, en ’n duo operasangers wat die gaste vermaak het. Gaste het aangesit vir ’n driegangmaaltyd onder ’n fees van liggies, met deelborde (“sharing platters”) soos dit ’n egte Italiaanse fees betaam.
Later die aand het die sirkus-artieste weer hul beste kostuums en toertjies uitgehaal, en gaste laat voel of hulle inderdaad na ’n ander wêreld weggevoer is.









Die feestafel was ’n reusesukses en ’n fantastiese voorsmakie van dit wat in hierdie feesjaar op Bloemhof-belanghebbendes wag. Ons is uiters dankbaar vir ’n hardwerkende en bekwame komitee – me. Laetitia Meyer het hier die voortou geneem – en die BOOV wat ure agter die skerms werk om spoggeleenthede soos die feestafel ’n sukses te maak!
Ons deel in ’n volgende uitgawe al die nuus van ons feesweek!
Musiekleerders presteer in UNISA-eksamens
21 BLOEMHOFFERS SLAAG HUL TEORIE-EKSAMENS MET LOF
Stephan Meyer

Bloemhoffers het aan die einde van 2024 die UNISA Musiekteorie-eksamen afgelê en 21 leerders het met 80% of meer geslaag. Dié leerders slaag almal met lof, maar enkeles verskyn ook op UNISA se ererol – hulle persentasies word in hakies aangedui.
Graad 2: Madelie Botes, Carley Heynes, en Nadia Knoetzen
Graad 3: Anya Gantz, Liza Hitge (100%), Leila Hölscher, Mija Kalp (91%), Jené Nigrini (97%), Nicola Pienaar (100%), en Juliana Stofberg.
Graad 4: Chanika Arnolds, Anné Botha (90%), Rebecca Briggs, Mia de Kock, Emma de Lange, Mia Gerber, Linda Pretorius, en Liané van Hoogstraten (90%).
Graad 5: Faith Boer, Isabel Mouton en Janka Strauss (93%).
Ons wens vir julle almal geluk met dié prestasie!
Goue balkies vir PJ Olivierleerders
BINNENHUISE- & ONDERWATERHOKKIE, PERDRYPRESTASIES
Stephan Meyer
Die PJ Olivier Kunssentrum se prysuitdeling vir toppresteerders is op 13 Februarie gehou en nege van Bloemhof se matrikulante wat kuns as vak neem, se harde werk is met goue PJO-balkies beloon.
Silwer balkies word aan die graad 11-leerders uitgedeel wat in elk van 2024 se vier kwartale (as graad 10’s) ’n gemiddelde punt van 80% of hoër gehandhaaf het. Graad 12’s wat in 2023 én 2024 daarin kon slaag om ’n gemiddeld van 80% of hoër te handhaaf, het die gesogte goue balkies ontvang.
Die Sotheby’s Toppresteerder Trofee vir Visuele Kunste is aan Loey Stemmet (matriek 2024) toegeken, terwyl Femke Boegman (ook matriek 2024) een van die leerders is wat die Prys vir uitstaande & volgehoue werksetiek, geskenk deur die Wes-Kaaplandse Jeugtrust en PJO, ontvang.
Veels geluk aan hierdie leerders met hul balkies:
Silwer balkies – 80% of hoër oor vier kwartale (2024)
Graad 10’s 2024: Chloe Booyens, Lise Bruwer, Tessa de Beer, Judith de Bod, Carlien Erasmus, Lindsey Laurent, Zoë Louw, Jacqueline Theron en Jana Vorster.
Graad 11’s 2024: Jaime Bain, Maxine Timmey en Jana Viljoen.
Goue balkies – 80% of hoër oor agt kwartale (2023-2024)
Graad 11’s 2024: Lize Bestbier, Beulah Burmeister, Marion Conradie, Michaela Jay, Nina Knoetzen, Liezel Koch, Malaika Nel, Mieke Theron en Rayne Weyers.
Bloemhof weer Gerrie Berner-wenners
14 BLOEMHOFFERS IN BOLANDSPAN & CURRO-KAMPIOENE
Stephan Meyer

2025 blyk ’n goeie jaar vir Bloemhof se tennisspelers te wees as die eerste kwartaal enige aanduiding gee.
In Januarie word 14 van ons spelers in Bolandspanne opgeneem, en in Februarie word Bloemhof vir die negende agtereenvolgende jaar as die wenners van die CR van der Merwe-tennistoernooi by Curro Durbanville gekroon. Die ongetwyfelde hoogtepunt is egter toe Bloemhof in Maart weer die Gerrie Berner-trofee kon lig.
Die Gerrie Berner-tennistoernooi is ’n gesogte uitnodigingsbyeenkoms waar die 12 sterkste skolespanne van regoor Suid-Afrika kragte meet. Ons broerskool, Paul Roos Gimnasium, is reeds in Februarie as die kampioene in die seunsafdeling gekroon; die dogters het van 6-8 Maart in die Paarl meegeding.
In die uitspeelrondtes verloor ons o.19A’s slegs een wedstryd, maar dring tot die semifinaal deur waar hulle seëvier:
wen Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria 6-1
wen HS Waterkloof 7-0
wen HS Nelspruit 6-1
verloor 4-3 teen Oranje
wen HS Stellenbosch 7-0 gewen
wen Rhenish 4-0 in die semi-finaal
In die senutergende finaal ontmoet die Bloemhoffers en die Orajneniete mekaar weer op die baan. Ná twee rondtes dubbelwedstrye was die telling tussen die twee sterk tennisskole gelykop, maar Bloemhof druk deur om die dubbels te wen en sodoende 1 punt te verdien. In die enkelwedstryde gebeur dieselfde en uiteindelik word die toernooi deur ’n enkele valbylpot ("super tiebreaker") beslis: Charlotte Bouwer (gr. 9) wen 10-3. Die ander lede van ons eerste tennisspan wat in die oorwinning deel, is Nina van Eeden (gr. 12 en kaptein), Milla Kotze (gr. 11), Marlia Nel (gr. 11), Marliné Stoop (gr. 11), Makenzie Rolfe (gr. 10), en Ella Jonker (gr. 9).
Veels geluk aan elkeen van ons spelers en hul afrigter, Marc van der Merwe, van die Coppini Tennisakademie! Dié oorwinning is beslis ’n groot een.
CAVALIERS KRAAI KONING
11 Bloemhof-tennisspelers het op 28 Februarie en 1 Maart die Boland in die Synergy Cup Inter-Provinsiale toernooi in Kaapstad verteenwoordig. Die o.19- én o.15-Cavalierspanne het die toernooi gewen en die volgende Bloemhoffers het met goue medaljes weggestap:
• o.19A: Makenzie Rolfe, Lara Potgieter, Marlia Nel en Peta Kruger
• o.19B: Mari-Anna van Rooyen en Imke Roux
• o.15A: Lize Buys, Lisa Jonker, Mia Pecoraro, Megan Mackie en Jana Steyn
MILLA VEROWER EERSTE J60-DUBBELSTITEL
Februarie was vir Milla Kotze (graad 11), Bloemhof se #1-tennisspeler, ’n besige maand. Nadat sy aan die einde van 2024 die nommer 1-posisie op die TSA-ranglys vir dogters o.17 gehaal het, kwalifiseer sy om punte op die ITF se ranglys te begin aanteken en word uitgenooi om aan twee J60-toernooie deel te neem. Sy klim met bykans 200 plekke op die ITF-punteleer.
Sy het eers in Durban deelgeneem, waar sy en haar dubbelsmaat Ciaran McConnell in die kwarteindrondte uitval – hul teenstanders gaan voort om dié toernooi te wen.
Daarna het sy aan die J60-toernooi in Bloemfontein deelgeneem waar sy in die kwarteindrondte in die enkelspel uitgeskakel word. Sy en haar dubbelsmaat, Milan Swanepoel, haal nie net die finaal nie, hulle slaag om met ’n telling van 6-4 en 7-6 as dubbelskampioene van die baan af te stap.
Baie geluk, Milla. Dit is voorwaar ’n prestasie waarop jy maar trots mag wees!
Buitesportpresteerders
BINNENSHUISE- & ONDERWATERHOKKIE, FIETSYERS EN PERDRYPRESTASIES
Stephan Meyer
Bloemhoffers blink steeds uit wanneer dit by buitesportsoorte kom:
Binnenshuise hokkie

Drie graad 9-Bloemhoffers – Zani Boezaart, Madelie Botes en Gisela du Toit – het die Boland se o.14 Foxes-span in Desember verteenwoordig toe hulle aan die PSI Nasionale Binnenshuise Hokkietoernooi deelgeneem het. Zani het as kaptein vir die span uitgedraf.
Die Foxes span het ’n silwermedalje verower en ná afloop van die toernooi is Zani en Madelie vir die All Africa All Stars-span gekies wat in Januarie 2026 na Europa sal toer. Gisela, die span se doelwagter, is as nie-reisende reserwe gekies.
Fietsry
Isabel Lutz (g. 11) en Lara van der Vyver (gr. 9) het aan die begin van Maart aan die SA Cup #1 XCC resies (1 Maart) en SA Cup #1 XCO resies (2 Maart) deelgeneem. Lara het ook in Februarie aan verskeie byeenkomste deelgeneem.
Tydens die resies het Isabel 4de gekom in die XCC en 6de in die XCO resies. Lara het 3de gekom in beide die XCC en XCO. Top ryers van oor die hele land, sowel as Namibië, het deelgeneem aan hierdie SA resiese.
Vyf Bloemhof-fietsryers het op Saterdag 15 Maart aan die 1ste Wes-Kaap Skoleliga XCO resies deelgeneem het, het as volg gevaar:
Lara van der Vyver – 1ste in o.15
Klara du Plessis – 7de in o.15
Hannah Kempen – 16de in o.16
Isabel Lutz – 1ste in o.17
Elsje Carinus 4de in o.18
Met hierdie goeie wegspring staan Bloemhof 1ste op die ranglys van Top Skole Hoërskool Dogters (wat al die dogters se punte bevat) en 4de op die All Stars ranglys (wat die top seuns en dogters se uitslae bevat). Om meer perspektief te gee: PRG is 1ste op die All Stars ranglys.









Onderwaterhokkie
Franci Beyers (gr. 12) is gekies om die Boland Onderwaterhokkie se A-span te verteenwoordig. Hulle neem die week van 21 tot 23 Maart aan die Junior Nasionale Toernooi in Bloemfontein deel. Baie sterkte, Franci!
Perdry
Die SANESA (South African National Equestrian Schools Association) se Wineland distrik se eerste kwalifiserende rondtes het onlangs by by die Stellenbosch District Riding Club plaas gevind en ’n hele paar Bloemhoffers het deelgeneem. Ella Loubser was een van hulle en behaal twee eerste plekke in die Showjumping 90cm-kompetisies.
Afwesigheidsbeleid
Ons herinner ouers/voogde vriendelik aan ons afwesigheidsbeleid. Dit kan by www.bloemhofschool.co.za/afwesigheid gevind word.
Om in die Bloemhof Brokkies te adverteer, kontak asb. vir me. Dinie Basson by dinie@bloemhofschool.co.za. Meer inligting oor advertensiegeleenthede en kostes is HIER beskikbaar.
Bloemhof vier fees! Ons deel stories en foto’s van ons feesweek.
Ontmoet die nuwe personeel wat in die sport- en adminkantore werk.
Die eerste kwartaal was besonders bedrywig en ons vra om verskoning dat u so lank op nuus moes wag. Die Bloemhof Brokkies sal voorts een keer per maand verskyn – Uitgawe 3/2025 word vir einde April beplan. Ons doen moeite om die uitgawe so akkuraat as moontlik te publiseer, maar rapporteer asb. foute, deel nuus of gee algemene terugvoer HIER.
Help skryf! Die Bloemhof Brokkies het joernaliste, redigeerders en proeflesers nodig. Gesels gerus met dr. Revington (marietjie@bloemhofschool.co.za) in kamer 26 as jy betrokke wil raak.
Foto’s vertel stories. As jy hiermee saamstem, word deel van Klub Momentum (Bloemhof se fotografie-vereniging). Kontak vir Emeri Botes in graad 12 (voorstitter) of kom gesels met mnr. Meyer (kommunikasie@bloemhofschool.co.za) – sy kantoor is langs k. 32.
Wil jy by Bloemhof adverteer? Tree in verbinding met me. Dinie Basson (dinie@bloemhofschool.co.za).
Baie dankie aan hierdie uitgawe se medewerkers – Rentia-Marié Meyer, Desiré Coetzee, Nicki Serfontein, Lida de la Bat en die lede van Klub Momentum. Me. De la Bat het ook die voortou geneem om dié uitgawe af te rond en uit te stuur.
Redakteur en samesteller: mnr. Stephan Meyer – stuur gerus ’n e-pos aan kommunikasie@bloemhofschool.co.za om in verbinding te tree.