Bloemhof Brokkies 04/2025
Die Wintersportseisoen het begin, Bloemhof vier Paasfees, die graad 12's hou daslas en méér in hierdie uitgawe van ons nuusbrief.
Dankbaarheid seëvier by Gospelaand
BLOEMHOF VIER PAASFEES MET MUSIEKVERTONING
Carla Bezuidenhout
Deel van ons skool se 150-jarige feesviering was ’n Gospel Paasfees Musiekvertoning, waartydens die kunstenaars Clint Brink, Rouchelle Liedemann, Janine Price, Mynhardt Kruger en Jeané Tait opgetree het. Met hierdie gemeenskapsbyeenkoms het ons saam die Paastyd ingegaan en ook God se guns oor Bloemhof en haar mense gevier.
Om aan te sluit by vanjaar se dankbaarheidstema in Bloemhof, was ons daardie aand veral dankbaar vir skole in ons gemeenskap wat spasies skep vir ouers en onderwysers om saam te werk om jong lewens te vorm; dankbaar vir jongmense wat Jesus soek, Hom vind en Hom volg; en dankbaar vir ’n skool waarin God teenwoordig is.









Baie dankie aan ons hoofborge: Rola Haval Stellenbosch, VIA, Afrikaans 100, Bloudruk Media, De Zalze Lodge en Prescient. Ons waardeer ook elke individu se finansiële bydrae en ons skoolgemeenskap wat die aand ondersteun het.
Die Klas van 2025 vier Daslas!
KREATIWITEIT GEVIER TYDENS PRETTIGE TRADISIE
Dinie Basson

Dis ’n tradisie waarna die matrieks jaarliks uitsien… Daslas, wat in 2017 deur die VRL ingestel is en sedertdien deur die matriekkomitee georganiseer word, bied aan die graad 12-leerders die geleentheid om hul ou, kort skooldassies te versier en dit dan in ’n vertoonkas te bêre.
Vanjaar se dasse was alles behalwe generies. Daar is selfs gewaag om te skryf: “All this to marry rich.”
Agter elke kwinkslag skuil ’n storie van groei, uithouvermoë en lewenslesse. Dis nie net ’n das nie – dis ’n mini-museum van drome, teleurstellings, oorwinnings en egte Bloemhof-gees.




Huis Bloemhof hou piekniek vir ma’s en dogters
’N KOSHUISPARTYTJIE SOOS MIN!
Joan le Roux
Die Ma-en-dogter Piekniek wat op Woensdagaand, 16 April 2025, plaasgevind het, was weereens ’n hoogtepunt op Huis Bloemhof se kalender. Dié geleentheid word jaarliks deur die HK van die koshuis gereël. Koshuisleerders kon hulle ma's (of enige ander vroulike familielid of rolmodel in hulle lewens) vir die geleentheid nooi.
Daar is heerlik saamgekuier terwyl Trevino as gaskunstenaar vir mooi agtergrondmusiek gesorg het. Pretoomblikke is by die Photobooth vasgevang en ma's kon ook ’n kykie in die koshuissusterskap kry – iets wat ’n integrale deel van Bloemhof se “huis-weg-van-die-huis” vorm.
Die koshuispersoneel wat so mooi as span na die leerders omsien, kon ook aan die ouers bekendgestel word en me. Maré Bosch, ons skoolhoof, het in haar toespraak beklemtoon hoe na koshuis haar aan die hart lê. As plaaskind in die Oos-Kaap was sy vanaf gr. 1 tot gr.12 in ’n skoolkoshuis en daarom het sy veral waardering vir die hegte bande wat koshuisleerders met mekaar smee. ’n Hoogtepunt was beslis die nagereg – smullekker roomys van Kristen's Kick Ass Ice Cream. Daar was ook gelukkige trekkings en, danksy wonderlike borge, is ’n hele paar dogters/ma’s met groot geskenke verras!




Volgens dié spesiale tradisie wat deur 2018 se koshuis hoofdogter, Christi Hurter, ingestel is, het die matriekma’s na die funksie by hul dogters in die koshuis oorgeslaap en die volgende oggend ook in die eetsaal kom aansit om ’n koshuisontbyt te beleef. Alhoewel sommige matriekma’s graag ’n bietjie outydse koshuiskattekwaad wou aanvang, het hulle dogters hulle mooi in toom gehou!
Mag hierdie spesiale tradisie nog vir baie jare voortgesit word.
Baie dankie aan die volgende borge wat tot die sukses van hierdie aand bygedra het: Esse Skincare, Stelkor Apteek, Paul Roos Kwikspar, Eerste Kafeeversameling, Isa Carstens, Nuudo Stellenbosch, Revel en Plato.
Eerste netbalspan aangekondig
ROLA VOLVO WEER BANKVAS AGTER DIÉ SPAN
Hanneke van der Merwe
Ná ’n aantal voorseisoentoernooie is tien spelers tot die Bloemhof o.18A-netbalspan verkies. Hulle het Donderdag 16 April hul spandrag ontvang en word vanjaar weer deur Rola Volvo geborg.
Mnr. Ryan Chapman van Volvo en me. Maré Bosch het die oorhandiging van rugsakke en geskenkpakkies gedoen om die dogters geluk te wens met hul insluiting in die span. Hulle is:
Mariaan Bruwer (kaptein, gr. 12)
Nell Basson (o/k, gr. 12)
Carlin Keuzenkamp (o/k, gr. 12)
Mila Bester (gr. 12)
Rozelle Buhr (gr. 12)
Simoné Dry (gr. 12)
Lomé Gouws (gr. 12)
Mima Pienaar (gr. 12)
Carmi Shaw (gr. 12)
Jenna von Zeuner (gr. 10)
Ons sê opreg dankie aan die ouers wat baie moeite gedoen het om die aand spesiaal te maak. Oasis het water geskenk en me. Marilou Marais-Ferreira het vir die spyseniering en wynskenkings gesorg.
Netbalspelers “doelgedrewe” vir 2025
VOORSEISOEN VOORSPEL SUKSES VIR ONS SPELERS
Stephan Meyer
2025 se netbalseisoen het met mening begin en ’n aantal voorseisoentoernooie het reeds plaasgevind. Voordat spanne gefinaliseer kon word, het die Bloemhofspelers die geleentheid gehad om in Pretoria en die Paarl hul vaardighede te slyp.
Menlopark Netbaltoernooi
Twee Bloemhofnetbalspanne – spelers uit die o.16 en o.18-ouderdomsgroepe – het met moeë bene en vol harte van die jaarlikse Menlopark Netbaltoernooi teruggekeer. Dié toernooi, wat vanaf 28 Maart tot 1 April in Pretoria plaasgevind het, bied aan ons netbalspelers die geleentheid om teen spanne kragte te meet wat hulle nie normaalweg op die baan sou ontmoet nie.
Bloemhof se sportbestuurder vir netbal, me. Zelda Botha, meen netbal leer die spelers lesse wat verder as die sport self gaan. “Dit vorm hoe ons uitdagings hanteer, met ander saamwerk, stres bestuur en aanhou om vorentoe te beweeg na ’n oorwinning of ’n nederlaag.” Sy sê die vaardighede wat in sport aangeleer word, kan tot persoonlike groei en beter besluitneming en sukses in die lewe lei. “Dit bied jou die gereedskap om alles wat oor jou pad kom, die hoof te bied.”
Die o.18’s het in sewe van hul nege wedstryde die meeste doele aangeteken. Die o.16’s speel tien wedstryde waarvan hulle sewe wen, twee verloor en in een gelykop speel.
o.18-uitslae:
Verloor 12-26 teen HS Noordheuwel
Wen HS Outeniqua 21-12
Wen HS Monument 20-13
Wen Northcliff High 28-9
Wen HS Linden 21-8
Verloor 18-26 teen HS Menlopark 18-26
Wen HS Dr Malan (Alberton) 26-11
Wen HS Duineveld 25-17
Wen HS Edenvale 29-17
o.16-uitslae:
Wen Grenville High 29-11
Wen HS Diamantveld 25-13
Wen Edenvale High 30-13
Wen HS Duineveld 29-12
Wen Rand Park High 26-4
Speel 24-24 gelykop teen HS Monument
Verloor 13-30 teen Helpmekaar College
Wen HS Lydenburg 29-6
Verloor 23-30 teen Potchefstroom Gimnasium
Wen HS Menlopark 23-21
Paarl Gim Netbaltoernooi
Die o.14’s, o.15’s en o.17’s se A-netbalspanne het hul vakansie op die baan afgesluit toe hulle aan die Paarl Gimnasium Netbaltoernooi deelgeneem het. 20 wedstryde is gespeel en Bloemhofspanne wen 14 hiervan.
o.14-uitslae:
Wen HS Upington 20-11
Wen Fairmont High 21-8
Wen HS Bellville 31-9
Wen HS Montana 23-11
Verloor 13-26 teen HS Paarl Gimnasium
Wen HMS La Rochelle se B-span 28-12
Wen HSRobertson 35-6
Verloor 19-23 teen HS Dinamika
o.15-uitslae:
Wen HS Durbanville (2) 23-11
Verloor 18-25 teen HS Paarl Gimnasium
Verloor 17-13 teen HS Parel Vallei
Wen HS Montana 24-10
Verloor 14-18 teen HS Dr Malan 14-18
Wen HS Brandwag 32-5
o.17-uitslae:
Wen HS Durbanville (2) 34-8
Wen HS Parel Vallei 17-12
Wen Paulus Joubert Secondary 38-8
Verloor 14-18 teen HS Paarl Gimnasium
Wen HS Melkbos 33-4
Wen HS Montana 18-14
Foto's: Jannie Kotze
Eerste Span wen brons by La Rochelle Rhodes
Ná hul deelname aan die Menlo Netbaltoernooi het die o.18A-netbalspan aan die La Rochelle Rhodes Netbaltoernooi deelgeneem en Bloemhof se naam baie hoog gehou: Hulle het ’n derde plek ingepalm!
Drie van ons spelers – kaptein Mariaan Bruwer, verdedigende speler Carmi Shaw en onderkaptein Nell Basson (almal in graad 12) is uitgenooi om deel van ’n toerspan te vorm wat in Dubai kan gaan deelneem. Dit vorm deel van ’n inisiatief deur Travel en Sport, een van die toernooi se borge. Nell is ook aangewys as een van die toernooi se “All Star”-spanlede.
Podiumplekke vir hokkiespanne
1STE, 2DE PLEKKE VIR SPANNE WAT IN VAKANSIE MEEDING
Stephan Meyer
Die afgelope vakansie het Bloemhof se o.16A, o.16B en o.19A-hokkiespanne aan toernooie deelgeneem en puik presteer.
Bloemhof kraai koning by Fairtree o.16-hokkietoernooi
Tydens die herfsvakansie was Bloemhof weer die gasvrou vir die Fairtree o.16-hokkietoernooi. Beide die o.16A- en die o.16B-spanne is as die wenners in hul onderskeie groepe aangewys – ’n besonderse prestasie!
Die o.16A’s speel in die finaal teen Paarl Gimnasium, maar toe die eindfluitjie blaas sonder dat enige doele aangeteken is, word die wenners tydens ’n valbylrondte beslis: Bloemhof wen 5-4.
In die B-afdeling het die o.16B’s teen ses van die tien spanne kragte gemeet om uiteindelik die rondomtalie-kompetisie te wen. Hulle uitslae is soos volg:
wen Affies 1-0
speel 0-0 gelykop teen DSG Makhanda
wen Outeniqua 4-0
speel 0-0 gelykop teen Rhenish
wen HTS Drosty 1-0
wen Hugenote 1-0
Klub Momemtum se fotograwe was langs die veld – baie dankie aan Talja Nel, Emeri Botes, Layla Viljoen en Marlene du Toit!
Bloemhof haal finaal by St. Mary’s hokkietoernooi
Die St Mary’s o.19A-hokkietoernooi, wat deur St Mary’s DSG, Waverley in Johannesburg aangebied word, is nie ’n klein toernooi nie. 32 van die land se beste hokkiespanne kom byeen om kragte te meet, maar ook vriendskappe te vier en – in alle eerlikheid – te sien hoe swaar die seisoen se kompetisie weeg.
Vanjaar se toernooi was vir Bloemhof ’n geskiedkundige een: Die o.19A’s kon dit regkry om hul plek in die finaal van dié gesogte toernooi te bevestig. Alhoewel hulle hier net-net teen St Mary’s DSG, Kloof (Durban) verloor, bly dit ’n groot prestasie!
Boonop is Bloemhof se doelwagter, Emeri Botes (gr. 12), as die doelwagter van die toernooi aangewys.
Die Eerste Span verloor slegs één van hul twaalf wedstryde:
wen Roedean 5-0 Roedean
wen St John’s DSG 1-0
wen Garsfontein 1-0
wen St Andrews 3-1
wen Affies 1-0
wen Pietermaritzburg GHS 3-0
speel 0-0 gelykop teen Eunice
speel 0-0 gelykop teen St Mary’s, Waverley
speel 1-1 gelykop teen St Mary's, Kloof
wen Menlopakr 2-0 in die kwarteindstryd
speel 0-0 teen Rhenish gelykop, maar wen die semi-finaal se valbylrondte 3-1
verloor 0-1 teen St Mary’s, Kloof in die finaal



Goud, silwer én brons vir atlete by ASA
DANIELA SA SE BESTE 800M JUNIOR ATLEET
Stephan Meyer
Bloemhofatlete kon die 2024/2025-seisoen op ’n baie hoë noot afsluit toe daar nie een nie, nie twee nie, maar viér medaljes by die Atletiek Suid-Afrika se junior kampioenskappe verower is. Dit het tussen 4 en 6 April in Kaapstad plaasgevind.
Daniela Viljoen (gr. 11) het die goue medalje in die 800m gewen, en ook ’n silwer medalje saam met haar spanmaats in die 4 x 100m-aflos verower. Twee Bloemhoffers het derde plekke verower: Nell Basson (gr. 12) vir die 400m en Jeannie Myburgh vir paalspring. Bloemhoffers kom dus met goud, silwer én brons terug Stellenbosch toe.




Die volgende Bloemhoffers het die finaal van hul item(s) gehaal en onder die eerste 8 plekke geplaas – self wonderlike prestasies:
Katerien Fourie (4de – 3000m)
Simone van der Merwe (5de – 1500m)
Elizabeth Smith (6de – spiesgooi)
Annemie du Plessis (8ste – 300mH)
Alecia Stander (8ste – hoogspring)
Bea Wium (8ste - gewigstoot)
Veels geluk aan al ons atlete! Ons gun julle die ruskans voordat die nuwe seisoen in September wegspring!
Charlotte is dubbel dubbelskampioen
Nuus van Botswana ITF, Vrystaat Super 8 en SA Kampioenskappe
Stephan Meyer
Charlotte Bouwer (gr. 9) het aan twee ITF Tennistoernnoie in Botswana deelgeneem en is in albei as die dubbelskampioen gekroon. Haar spanmaat is Jenna Theron, ’n leerder van ons susterskool, Rhenish Girls’ High School.
Botswana ITF en Vrystaat Super 8
Charlotte Bouwer (gr. 9) het aan twee ITF Tennistoernnoie in Botswana deelgeneem en is in albei as die dubbelskampioen gekroon. Haar spanmaat is Jenna Theron, ’n leerder van ons susterskool, Rhenish Girls’ High School.
In die eerste toernooi haal Charlotte die semi-finaal van die enkels, en in die tweede een val sy in die kwart-eindrondte uit. Dié ITF-toernooie volg op haar deelname aan die Vrystaat Super 8 wat in die skoolvakansie plaasgevind het waar sy derde in die enkels eindig en slegs in die finaal van die dubbels verloor.
Lisa Jonker (gr. 8) het ook aan die Vrystaat Super 8-toernooi deelgeneem en tot in die finaal van die o.14’s se dubbels gevorder, waar sy die knie buig. Sy eindig negende in die enkels.
SA Nasionale Kampioenskappe:
Vier Bloemhoftennisspelers het aan die SA Nasionale Tenniskampioenskappe deelgeneem:
In die o.18-afdeling eindig Milla Kotze (gr. 11) onder die top vier toe sy in die semi-finaal van die enkels uitgeskakel word. Sy dring egter na die finaal van die dubbels deur, maar swaar reën verhoed dat die wedstryd voltooi kan word. Nina van Eeden (gr. 12) neem ook in die o.18-afdeling deur en verloor in die semi-finaal van die dubbels.
Charlotte Bouwer (gr. 9) dring tot in die semi-finaal van die o.16’s se dubbels deur, en haal die kwarteindrondte van die enkels. Lisa Jonker (gr. 8) haal ook die semi-finaal van die dubbels in die o.14-afdeling.
Skoot klap vir landloopseisoen
Nuus van Botswana ITF, Vrystaat Super 8 en SA Kampioenskappe
Stephan Meyer
Die skoot vir 2025 se landloopseisoen het geklap en die ons langasematlete het weggespring. Op Woensdag 9 April het die eerste byeenkoms van die skoleliga by Hugenote Hoërskool plaasgevind waar vyf Bloemhoffers deelgeneem het. Tydens die skole-liga lê die atlete ’n afstand van 4 km af en neem as juniors (gr. 8 en 9) of seniors (gr. 10-12) deel.
Juniors – Gizè Strydom (gr. 9) eindig 3de, Lucia Kempen (gr. 8) eindig 5de.
Seniors – Olivia Schwartz (gr. 11) behaal ’n 2de plek, terwyl Mieke Steenkamp (gr. 10) 4de en Mia de Kock (gr. 10) 6de eindig.
Tydens die tweede byeenkoms (16 April by HMS La Rochelle) neem Chené Botha (gr. 9) in die junior afdeling raak waar sy 11de eindig. Vier seniors neem ook deel:
Mieke Steenkamp (gr. 10) 6de
Lize Bestbier (gr. 12) – 7de
Mia de Kock (gr. 10) – 13de
Reagan Roodt (gr. 10) – 21ste
Op 23 April het drie graad 9-landloopatlete – Lili du Toit, Emma Nel en Klara du Plessis – aan Fairmont High School se “Knights under Lights” aflosbyeenkoms deelgeneem. Hulle moes elkeen 1,5 km aflê en het die brons medalje in die afdeling vir dogters o.15 behaal.
Nuus van buitesportpresteerders
DRIEKAMP, MTB, BOOGSKIET EN …
Dinie Basson
Bloemhoffers het oudergewoonte aan sportsoorte buite die skool se gewone dissiplines deelgeneem. Ons deel graag enkele van dié prestasies:
Twee-, drie- en Moderne vyfkamp
Maric de Roubaix (gr 12) het tydens die langnaweek in Maart aan die SA Biathlonkampieoenskappe in Oudtshoorn deelgeneem waar sy ’n uitmuntende derde plek verower het! Sy was een van 40 meisies wat vir die o.19-vroue se tweekamp gekwalifiseer het en ’n wedloop van 800m aflê en 100m moes swem.

Driekampatleet Lomé Gouws (gr. 12) het tweede in die afdeling vir junior vroue by die Afrika Driekampkampioenskappe geëindig toe dié kompetisie op 5 April in Nelson Mandelabaai plaasgevind het – ’n wonderlike prestasie!
Dit volg op haar deelneme aan die SA Triathlon Championships (16 Maart in Benoni) waar sy ’n tweede plek in die o.19-ouderdomsgroep behaal het en op 22 Maart eerste by die Africa Triathlon Cup (22 Maart in Swakopmund) geëindig het.



Talja Nel (gr. 9) het tydens die Paasnaweek aan die WP Pentathlon-kampioenskappe deel geneem en ’n algehele derde plek in die ouderdomsgroep o.17 behaal. Dit het by Glenwood House in George plaasgevind.
Veels geluk aan al ons atlete wat multidissiplinesportsoorte beoefen!
Bergfietsry
Lara van der Vyver (gr. 9) het gedurende die skoolvakansie aan die MTB XCO Series
in Knysna deelgeneem en ervaar dat dié sport nie sonder sy uitdagings is nie.
Sy was die voorloper in die kompetisie tot haar fiets se velling (die “rim” van die wiel) in die tweede laaste rondte gebreek het en dit eers vervang moes word. Dit het harde trap gekos om verlore tyd in te haal, maar sy eindig steeds in die derde plek.



Haar volgende deelname is hierdie naweek wanneer sy aan die Suid-Afrikaanse Nasionale kampioenskappe vir XCO en XCC in Johannesburg deelneem. XCO staan vir “Cross-Country Olympic” en XCC vir “Cross-Country Short Circuit” – twee van die gewildste dissiplines in bergfietsry.
Baie sterkte met die naweek se fietsry, Lara!
Boogskiet
Twee Bloemhoffers – Layla Viljoen (gr. 10) en Vianté Rossouw (gr. 11) – het tussen 4 en 6 April aan die 75ste Suid Afrikaanse Nasionale Boogskietkampioenskappe deelgeneem waar hulle albei aan die o.18-afdeling deelgeneem het en twee van die drie podiumplekke verorwer het! Layla wen die silwer medalje en Vianté die brons.
Hulle berig dat die naweek veral weens gure weer uitdagend was, maar dat hulle sterk gestaan het en trots is om Bloemhof se naam hoog te kon hou.



Onderwaterhokkie
Mickyla de Villiers (gr. 9) was deel van die Boland o.16-onderwaterhokkiespan wat in Maart aan die junior nasionale kampioenskappe in Bloemfontein deelgeneem het. Die span eindig algeheel derde en keer terug Kaap toe met brons medaljes. Veels geluk, Mickyla!
Eksamenrooster
Die rooster vir die Mei/Junie-eksamen is reeds met leerders gedeel en by www.bloemhofschool.co.za/eksamenrooster beskikbaar.
Baie sterkte aan die leerders wat nou reeds hiervoor begin voorberei!
Om in die Bloemhof Brokkies te adverteer, kontak asb. vir me. Dinie Basson by dinie@bloemhofschool.co.za. Meer inligting oor advertensiegeleenthede en kostes is HIER beskikbaar.
Die nasional All Girls-fees!
Ons loer uitéindelik by die nuwe personeel in wat in die sport- en adminkantore werk.
Ons doen moeite om die Bloemhof Brokkies so akkuraat as moontlik te publiseer, maar rapporteer asb. foute, deel nuus of gee algemene terugvoer HIER. Die volgende uitgawe van die nuusbrief word vir Vrydag 9 Mei beplan.
Help skryf! Die Bloemhof Brokkies het joernaliste, redigeerders en proeflesers nodig. Gesels gerus met dr. Revington (marietjie@bloemhofschool.co.za) in kamer 26 as jy betrokke wil raak.
Foto’s vertel stories. As jy hiermee saamstem, word deel van Klub Momentum (Bloemhof se fotografie-vereniging). Kontak vir Emeri Botes in graad 12 (voorstitter) of kom gesels met mnr. Meyer (kommunikasie@bloemhofschool.co.za) – sy kantoor is langs k. 32.
Wil jy by Bloemhof adverteer? Tree in verbinding met me. Dinie Basson (dinie@bloemhofschool.co.za).
Baie dankie aan hierdie uitgawe se medewerkers – almal wat gehelp skryf het, foto’s verskaf het en met die proefleeswerk gehelp het.
Redakteur en samesteller: mnr. Stephan Meyer – stuur gerus ’n e-pos aan kommunikasie@bloemhofschool.co.za om in verbinding te tree.