Bloemhof Brokkies 05/2025
Die nasionale All Girls' Festival het plaasgevind en dit was ’n fees der feeste! Ons loer ook in dié uitgawe in by die nuwe gesigte in die sportkantoor en daar is weer baie sportnuus.
All Girls’ 2025: ’n fees der feeste
BLOEMHOFFERS HOU SKOOL SE NAAM BAIE HOOG
Stephan Meyer
Die Hoër Meisieskool Bloemhof was een van die 21 Suid-Afrikaanse openbare meisieskole wat tussen 27 en 30 April 2025 aan die nasionale All Girls-fees (AGF) deelgeneem het. Vanjaar is dié fees deur Wynberg Girls’ High School aangebied en die tema was “Embrace Your Brilliance” – beslis iets wat die Bloemhoffers gedoen het.
Hierdie sport- en kultuurfees vind sedert 2000 plaas en Bloemhof het in 2017 vir die eerste keer ’n hokkie- en netbalspan ingeskryf. Vanjaar was die eerste hokkie- en netbalspanne weer teenwoordig, saam met ’n All Girls-tennisspan, agt landloopatlete en ’n massa leerders wat aan kultuuraktiwiteite deelgeneem het. Alhoewel die skole mekaar die stryd aansê op die sportveld, is die kultuurkomponent ’n viering van vriendskap en vrouwees. Deelnemers woon werkswinkels by, ontmoet nuwe mense en leer by mekaar.

Vanjaar het ons skoolhoof, me. Maré Bosch, ook die fees bygewoon. “Dit is ’n wonderlike voorreg om skouers met 20 ander meisieskole te skuur,” verduidelik sy.
“Vir die personeel én vir die leerders is dit ’n geleentheid om te sien wat ander meisieskool van regoor die land bied en by hulle te leer. Ons ervaar dat almal verryk teruggekom het.” Dit is vir me. Bosch moeilik om ’n enkele hoogtepunt uit te sonder. “Die afsluitingseremonie… Ek was stomgeslaan deur die leerders se talent. Dis verstommend wat ’n mens kan regkry as almal inkoop… Hierdie is susterskap op ’n ander vlak.”
Hier volg ’n oorsig oor ons deelname aan dié opwindende fees.
Eerste Netbalspan is onoorwonne by AGF
Bloemhof se o.18A-netbalspan is op Woensdag 30 April as die wenners van die fees se netbaltoernooi aangewys nadat hulle Rhenish 30-25 geklop het. Gqeberha se Collegiate Girls’ High School het in die semi-finaal teen Bloemhof verloor, maar daarin geslaag om die HMS Paarl se o.18B-span te klop om derde te eindig.
“Ek was ook verlede jaar by All Girls in Bloemfontein en die atmosfeer was vanjaar weer ongelooflik,” sê Carmi Shaw (gr. 12). “Op die netbalbaan het ons ervaar dat die skole baie sterk kompetisie gebied het, maar ons het ook wonderlike vriendskappe met die ander spelers aangeknoop.”
Rozelle Buhr (gr. 12) is aangewys as Bloemhof se speler van die toernooi.




Die o.18A’s se volledige All Girls-netbaluitslae is soos volg:
wen Westville GHS 50-8
wen Rhenish 39-20
wen Wynberg GHS 45-14
wen Oranje Meisieskool o.18B 45-12
wen Queenstown GHS 36-14
wen Parktown GHS 26-12
wen HMS La Rochelle 26-15
wen Durban GHS 47-8
wen GHS Potchefstroom 59-2
wen Collegiate GHS 36-27 in die semi-finaal
wen Rhenish GHS 30-25 in die finaal
Brons medaljes vir hokkie en tennis
Op die astro maak vanjaar se o.19A-hokkiespan geskiedenis: Hulle is die eerste span om Oranje se o.19A’s sedert 1999 te klop, al was dit in ’n valbylrondte nadat die twee spanne in die kwarteindrondte nie daarin kon slaag om enige doele aan te teken nie. Hulle is ook die eerste van Bloemhof se hokkiespanne om tot die semi-finaal van die AGF deur te dring.

In die semi-finaal word dié span deur Collegiate uitgeskakel en moes hulle op die laaste feesdag teen Affies vir ’n derde of vierde plek uitspeel. ’n Treffende doel deur Daniela Viljoen binne die wedstryd se eerste minute is egter genoeg om die brons medalje vir die span te verower.
Die o.19A se hokkie-uitslae by die AGF is soos volg:
wen HMS La Rochelle 2-0
wen Pretoria GHS 4-0
wen Rustenberg GHS 1-0
wen Oranje Meisieskool 0-0 (3-2 in die valbylrondte)
verloor 1-2 teen Collegiate GHS in die semi-finaal
wen Afrikaans HMS Pretoria 1-0 om derde te eindig









Bloemhof se tennisspan volg ’n soortgelyke roete om ook teen Affies vir ’n derde of vierde plek uit te speel.

In die eerste wedstryde wen hulle gemaklik vir Eunice GHS (18-0) en die HMS Paarl (15-3), maar val vas teen Oranje in die semi-finaal: Oranje wen drie van die enkelwedstryde (twee daarvan in super tiebreakers) en skakel die Bloemhoffers uit toe hulle een van die dubbelwedstryde wen.
In die laaste uitspeelwedstryd wen Bloemhof vir Affies 3-1 om die derde plek uit die 15 deelnemende skole te verower.





Landloopatlete is eerste en tweede
Behalwe vir verskeie werkswinkels (wat dieet en biomeganika ingesluit het) en ’n pretdraf op Milnerton se Sunset-strand, is twee landloopbyeenkomste by die AGF gehou. 16 skole het elk vier junior en vier senior atlete ingeskryf – Bloemhof se juniors en seniors het dus teen 60 ander atlete gekompeteer.

In die individuele wedloop van 4 km (Maandag 28 April) eindig al ons atlete onder die top 20.


Juniors
Katerien Fourie (gr. 9) – 2 de
Abigail Keuler (gr. 8) – 7 de
Nicah Jacobs (gr. 9) – 10 de
Gizè Strydom (gr. 9) – 11 de
Seniors
Mila de Jager (gr. 10) – 5 de
Mia Swanepoel (gr. 11) – 11 de
Almi Geyser (gr. 10) – 16 de
Johané van Blerk (gr. 12) – 18 de
Dinsdagoggend is ’n spankompetisie gehou waar atlete individueel gehardloop het, maar punte vir hul span aangeteken het. Bloemhof se juniors is eerste en die seniors tweede.









Ál Bloemhof se deelnemende sportdissiplines eindig dus onder die drie bestes – voorwaar ’n prestasie waarop ons trots kan wees.
All Girls Kultuur: ’n fees vir die sintuie

26 Bloemhoffers het vanjaar aan die kultuurbeen van die AGF deelgeneem – die meeste wat ons nog ingeskryf het. Leerders het gedans, geskryf, kuns geskep, musiek gemaak en selfs ’n fynproewersmaal voorberei.
Anders as met die sport het die kultuurdeelnemers dikwels in kleiner groepe saam met leerders van ander skole gewerk.
Kaylin Liebenberg (gr. 12) was een van die vier Bloemhoffers wat vir drama ingeskryf en aan ’n toneel uit die musiekblyspel Hairspray gewerk het. “Ek het na die All Girls Festival gegaan vir die drama, maar dit was die spontane lag, samesyn en warm herinneringe wat my siel aangeraak het,” sê sy.

Vir Elizabeth Burger (gr. 11) was All Girls ’n “onvergeetlike ervaring”. Sy was deel van die vocal ensemble – die sanggroepe wat op die laaste dag ’n massa-item gedoen het. “Ek het so baie nuwe mense ontmoet met wie ek vriendskappe aangeknoop het wat ek vir ewig sal koester.” Layla Viljoen (gr. 10) was die enigste Bloemhoffer om vir visuele kuns in te skryf, maar het vinnig nuwe maats gemaak. “As jy dink Bloemhof het susterskap, wag totdat jy All Girls beleef!” meen sy. “Dis ’n plek waar almal gelyk is en almal mekaar deurentyd ondersteun.”


’n Hoogtepunt op die fees was die afsluitingseremonie: Meer as ’n duisend mense het in en om ’n groot tent – Wynberg Girls’ High School se “festival hub” – byeengekom om te luister hoe die marimbaspelers optree. “Dit was ’n besonderse marimba-uitvoering wat nie nét musikaal uitdagend was nie, maar ook energieke choreografie bevat het. Die gehoor was omtrent verras!” sê me. Dinie Basson.









Die All Girls’ Festival word in 2026 deur ons buurskool, Rhenish, aangebied en sal in alle waarskynlik van Bloemhof se fasiliteite gebruik maak. Ons hoop dat dit aan meer Bloemhoffers die geleentheid sal biedom ook deel te wees van hierdie fenominale fees en te ervaar hoe spesiaal dit is.
Accelerando “beKoor” weereens
EN LYK SPOGGERIG IN NUWE KOORDRAG
Dinie Basson
Die 81 dogters van Bloemhof se Accelerando Koor het nie net pragtig gesing by beKoor nie, maar ook verruklik gelyk in hul splinternuwe maroen rompe . beKoor is ’n jaarlikse koorfees wat deur Paul Roos Gimnasium aangebied word. Die program was propvol koorsang van uitsonderlike gehalte.

Accelerando het die Lofsang van Maria (Renette Bouwer), Will the Circle be Unbroken (spiritual verwerk deur J. Moore) en Pakanen (Soila Sariola) gesing. Die dames het die aand terdeë geniet!
“Dit was 'n pragtige aand met ’n heerlike verskeidenheid kore van hoë gehalte,” sê me. Marijke Roos, Accelerando se dirigent.
Dankie aan ons broerskool vir nog ’n onvergeetlike aand op die jaarlikse koorprogram.



o.14’s daag op vir hokkieuitdaging in Paarl
7DE PLEK BY BELGOTEX SPORT GIRLS’ CHALLENGE
Stephan Meyer

Bloemhof se o.14A-hokkiespan het tussen 1 en 3 Mei aan die Belgotex Sport Girls’ Hockey Challenge in die Paarl deelgeneem waar hulle ’n sewende plek behaal het. Dié toernooi het by die HS Paarl Gimnasium plaasgevind en 16 skole was deel van die o.14-afdeling.
’n “Uitdaging” was dit beslis, want die Bloemhoffers het teen sterk hokkieskole, soos Herschel Girls’ School en Collegiate Girls’ High School, te staan gekom..
In die eerste wedstryd kry ons spelers swaar teen ’n sterk span van Herschel, teen wie hulle 0-2 verloor. Daarna volg ’n wegholoorwinning van 5-0 teen Somerset College. Alhoewel daar geen doele in die laaste groepswedstryd aangeteken word nie, voel dit soos ’n oorwinning teen Collegiate.

Ongelukkig word die Bloemhoffers die top 4-posisie ontneem toe Affies hulle in die kwarteindrondte 3-1 klop, en in ’n valbylrondte verloor ons 3-0 teen Paarl Gimnasium. Uiteindelik speel ons teen en wen die HMS La Rochelle 2-0 om sewende in die toernooi te eindig.



Takealot het ná elke wedstryd ’n speler van die wedstryd aangekondig, en dié eer val ons drie keer te beurt: Bella Grobbelaar (teen Somerset College), Emili Wessels (teen Collegiate) en Lila Pienaar (teen La Rochelle).
Milla nou onder top 600-juniors wêreldwyd
TWEE DUBBELSTITELS IN NAMIBIË
Stephan Meyer
Om in vier opeenvolgende finale te speel, is ’n bewys van haar vasberadenheid om altyd haar alles op die spel te plaas wanneer sy die baan betree. Só meen Milla Kotze (gr. 11) se pa, Morné, wat met reg trots is op sy dogter se uitslae by die afgelope J30 en J60 ITF-tennistoernooie in Windhoek, Namibië.
Milla het eers in die J30-toernooi gespeel waar sy tot in die finaal vorder en as naaswenner eindig. Sy en haar dubbelsmaat, Milan Swanepoel, lig die trofee toe hulle as die kampioene gekroon word.
Dieselfde gebeur in die J60-toernooi in die week daarna: Milla is weer naaswenner in die enkels en saam met Milan dubbelskampioen.
Na afloop van die twee toernooie verdien Milla ’n totaal van 124 ITF-punte uit 160 – genoeg om haar in die top 600 spelers op die junior wêreldranglys te lig.
Welgedaan, Milla!
Nuwe gesigte in die Sportkantoor
’N KORT GESELSIE MET ME. SMITH & ME. BUITENDAG
Rentia-Marié Meyer
Daar is vanjaar twee nuwe gesigte in Bloemhof se sportkantoor: Me. Tiana Buitendag sluit vir die jaar in ’n internskapposisie by ons aan, terwyl me. Jamie Smith as die sportbestuurder vir hokkie waarneem nadat me. Illse Davids ’n pos by St. Cyprians aanvaar het.
JAMIE SMITH
Tell us about your journey to Bloemhof. What did you do before this?
I went to Rhenish Girls High where I matriculated in 2019. I played hockey for their first team and represented the Boland. I went on to study BA Sport Science at Stellenbosch University and BSc Honours in Performance Sport. During my honours year I did my intern practical hours at Bloemhof where I worked under/with Ms Illse Davids and Ms Jenny King. During that year (2023) I assisted with coaching u19Ds, S&C and video analysis for the hockey teams. Last year I did a two-months internship and assisted with the u16 Fairtree Tournament and coached the u14Cs. I have also helped at Maties Hockey Sports Office with their admin, fixtures and tournaments from 2018. I've also been coaching at the Junior Academy for JK10, which has been hosted at Bloemhof for the past three years. I have also been doing video analysis for Maties Hockey since 2021 (I’ve been to four USSAs and 1 Varsity Sports Tournament with 1st teams) and I’ve done video analysis for the SA u21 Women (2023-present) and SA u17 Girls (2024).
When Ms Davids decided to make the move to St.Cyprians, she called me and asked if I would be interested in taking over for her. The rest is history.
Any advice that you’ve received that has become part of your life motto?
My favourite quote of all time is by Mark Twain: “It's not about the size of the dog in the fight that matters but the size of the fight in the dog.”
Growing up playing many sports and having a family very involved in hockey, I had to get a thick skin early on. My u13A KZN Inland coach actually gave me this advice when I started going through a tough time with people having negative opinions and comments: no one can make me feel inferior without my consent, especially in sport. You are in the driving seat of your life and no one else can determine or control your journey. So believe in yourself and keep pushing and striving for your dreams, because at the end of the day only you can get you to where you want to be.
What is your vision for Bloemhof Hockey in 2025?
I hope to create a fun, inclusive environment that can empower the girls to reach their full potential through sport. I want the girls to enjoy playing sports and being physically active as this contributes to their holistic wellbeing in a positive way. Through sport the girls can learn many other beneficial life lessons such as resilience, skills and how to create and maintain life-long relationships. The girls are people first and athletes second, and ensuring that the person behind the athlete is well-looked after is essential. The results mean nothing when you leave school after matric… but the friendships made, the fun memories and the love for being physically active will always remain. Creating an environment that fosters and stimulates these elements is very important to me.
TIANA BUITENDAG
Hoe het jou pad tot by Bloemhof geloop?
Ek het verlede jaar HonsBSc (Sportwetenskap) met ‘n fokus op prestasiesport (“performance sport”) aan Universiteit Stellenbosch studeer, waar ek as deel van die program my 260 praktiese ure by Bloemhof gedoen het. Toe die geleentheid van ‘n jaarlange internskap by Bloemhof oopmaak, het ek dit met beide hande aangegryp!
Wat behels jou internskap?
Noem my sommer ‘n allesdoener! Ek doen eintlik enigiets - van buslyste opstel, tot pamflette en programme op Canva skep, tot toernooi-reëlings uitwerk. Ek doen ook kwotasies en dan is ek weer me. King se assistent. Buiten daarvoor, is ek ook verantwoordelik vir die skool se worpe (m.a.w. gewigstoot, spiesgooi en diskus) . Later die jaar gaan ek ook die o. 16C-hokkiespan afrig. Ek is ook ‘n gesertifiseerde krag en kondisionering-afrigter.
Wat is jou eerste indrukke van Bloemhof sover?
Ek het dadelik agtergekom dat me. King en die sportkantoor baie mooi na mense en hulle interns kyk, en baie omgee. Hulle het ook baie konneksies en kontakte, wat tot geleenthede lei - ‘n mens moet dit net aangryp! Daar is elke pouse ook baie lekker koffie in die personeelkamer…
Wat is die beste stukkie raad wat iemand al vir jou gegee het, wat deel van jou lewensleuse geword het?
Jer 17:7-8 is ‘n groot waarheid in my lewe. Dit kom eintlik daarop neer dat as jy in Christus gewortel is, en jy jou identiteit in Hom vind, jy nooit iets hoef te vrees of angs hoef te beleef nie. Hy sal jou pad vir jou skoon en reg maak, jy moet net op Hom vertrou.
Ander sportuitslae van die afgelope twee weke:
Netbal
Netbal teen HS Parel Vallei (23 April 2025 by PV)
Bloemhof speel 26 wedstryde teen Parel Vallei. Hiervan wen ons 22 en verloor in vier.
o.14A wen 26-14, o.14B verloor 5-9, o.14C wen 25-5, o.14D wen 26-7, o.14E wen 32-2, o.14F wen 22-6, o.14G wen 17-4, o.14H wen 9-5
o.15A verloor 15-18, o.15B wen 19-11, o.15C wen 29-3, o.15D wen 29-10, o.15E wen 30-7, o.15F wen 26 - 7, o.15G wen 10-7, o.15H verloor 8-12
o.16A wen 25-14, o.16B wen 32-15, o.16C wen 16-8, o.16 D wen 18-10
o.17A wen 24-12, o.17 B wen 30-6, o.17 C wen 22-9
o.18 A wen 35-12, o.18 B verloor 25-29, o.18 C wen 40-8
Netbal teen HTS Drostdy (7 Mei 2025 in Worcester)
Bloemhof speel ses wedstryde teen HTS Drostdy en wen vyf daarvan:
o.14A wen 20-18, o.14B wen 14-11
o.16A wen 32-13, o.16B wen 35-4
o.19A wen 36-11, o.19B verloor 18-21
Hokkie
Hokkie teen Parel Vallei (23 en 25 April 2025; wedstryde word by beide skole gespeel)
Slegs die o.19A’s verloor hul wedstryd teen Parel Vallei.
o.14A speel 1-1 gelykop, o.14B speel 1-1 gelykop, o.14C wen 3-0
o.16A wen 2-0, o.16B wen 2-0, o.16C wen 4-0, o.16D wen 9-0, o.16E wen 3-0
o.19A verloor 2-1, o.19B wen 5-1, o.19C wen 3-0, o.19D wen 5-0
Landloop
Skole-liga: Boland Landbou-byeenkoms (7 Mei 2025)
Juniors:
Gizé Strydom – 4de
Nika van der Merwe – 18deSuniors:
Olivia Schwartz – 2de
Mieke Steenkamp – 4de
Mia de Kock – 8ste
Layla Viljoen – 11de
Atletiek
’n Aantal Bloemhoffers het aan die Suid-Afrikaanse Skole Atletiek (ASAS) se nasionale kampioenskappe in Bloemfontein deelgeneem. Twee leerders het met medaljes teruggekeer:
• Gizé Strydom (gr. 9) behaal ’n derde plek in die 1500m hindernis vir dogters o.15
• Jeannie Myburgh (gr. 11) wen ook ’n brons medalje in die paalspring vir dogters o.17


Swem
Bloemhof se swemkaptein, Jana Lombard (gr. 12) het as lid van die WP-span aan twee nasionale galas deelgeneem:
By die SA Senior Nasionale Kampioenskappe (9-13 April in Gqeberha) swem sy teen die sterkste vroue in die land en behaal dié uitslae:
100m-vryslag (58ste), 100m-rugslag (31ste), 50m-vryslag (48ste), 50m-rugslag (23ste) en 50m-vlinderslag (23ste).
In die aflosse behaal sy en haar span ’n 7de plek (4x50m-vryslag) en ’n 8ste plek (4x100m-wisselslag).
Daarna neem sy ook aan die SA Junior Nasionale Kampioenskappe deel (25-29 April by UWK) waar sy die 100m-vryslag, 100m-rugslag en 50m-vlinderslag swem. In die
50m-vlinderslag behaal sy ’n uitstekende 5de plek; haar tyd was 29.34 teenoor die wenner se 28.21. Veels geluk met die uitslae, Jana!
Fietsry
Die Bloemhof-fietsryers is steeds in die eerste posisie in die kategorie Top Schools Girls.
Lara van der Vyver (gr. 9) het op 26 en 27 April aan die SA Bergfietskampioenskappe in Alberton, Johannesburg deelgeneem en twee 4de plekke in die XCC behaal. Die naweek daarna neem sy weer deel, hierdie keer op die plaas Bethelehem by Kylemore, waar sy ’n 1ste plek behaal.


Drie ander Bloemhoffers neem ook in Kylemore deel en behaal die volgende uitslae:
Isabel Lutz eindig ook 1ste
Elsje Carinus eindig 6de
Klara du Plessis eindig 14de nadat sy van haar fiets afval

Innige meegevoel
Ons spreek ons innige meegevoel teenoor Marise Andrag (gr. 9) uit – haar pa is vroër hierdie week oorlede.
Cuppa for CANSA – Gasvroue benodig
Op 9 Augustus bied Bloemhof ’n spesiale ma-en-dogtertee ten bate van CANSA aan. Ons benodig gasvroue vir dié geleentheid. Reik asb. na me. Venessa de Beer uit by venessa@bloemhofschool.co.za indien u by dié geleentheid betrokke wil raak.



Graad 10’s: Aansoeke vir 2026 se Europese toer nou oop!
Alle belangstellende graad 10-leerders kan tot en met 2 Junie 2025 aandui dat hulle in 2026 saam met die skool na Europa wil toer.
Volledige inligting is via die graad 10-graadgroep op WhatsApp en op die d6 met graad 10-ouers gedeel.
Gebruik die volgende skakel om by die aansoekvorm (op Google Forms) uit te kom: https://forms.gle/Yh4Rrj9g5DAdUgwQ8
Rig asb. enige navrae aan me. Kruger by elana@bloemhofschool.co.za
Civviedag: 23 Mei 2025
Die volgende Civviedag is 23 Mei en Bloemhof ondersteun twee organisasies: Reach for a Dream en Samaritan’s Feet SA.
Bloemhoffers kan netjiese gewone klere op 23 Mei dra indien hulle ’n donasie via die d6 maak, kontant by hul Phoenix-klasteenwoordiger inbetaal of items skenk. Veral Samaritan’s Feet SA kan by bruikbare pare skoene baat – bring dit gerus na die mediateek.
Om in die Bloemhof Brokkies te adverteer, kontak asb. vir me. Dinie Basson by dinie@bloemhofschool.co.za. Meer inligting oor advertensiegeleenthede en kostes is HIER beskikbaar.

Graad 9’s toets hipoteses
Bloemhoffers vertel van Amanda Coetzer-stryd
Ons doen moeite om die Bloemhof Brokkies so akkuraat as moontlik te publiseer, maar rapporteer asb. foute, deel nuus of gee algemene terugvoer HIER. Die volgende uitgawe van die nuusbrief word vir Vrydag 23 Mei beplan.
Help skryf! Die Bloemhof Brokkies het joernaliste, redigeerders en proeflesers nodig. Gesels gerus met dr. Revington (marietjie@bloemhofschool.co.za) in kamer 26 as jy betrokke wil raak.
Foto’s vertel stories. As jy hiermee saamstem, word deel van Klub Momentum (Bloemhof se fotografie-vereniging). Kontak vir Emeri Botes in graad 12 (voorstitter) of kom gesels met mnr. Meyer (kommunikasie@bloemhofschool.co.za) – sy kantoor is langs k. 32.
Wil jy by Bloemhof adverteer? Tree in verbinding met me. Dinie Basson (dinie@bloemhofschool.co.za).
Baie dankie aan hierdie uitgawe se medewerkers – almal wat gehelp skryf het, foto’s verskaf het en met die proefleeswerk gehelp het.
Redakteur en samesteller: mnr. Stephan Meyer – stuur gerus ’n e-pos aan kommunikasie@bloemhofschool.co.za om in verbinding te tree.



















