Bloemhof Brokkies 06/2025
Die graad 9-ekspo is hierdie week onder die vergrootglas. Ons berig oor die koor se eerste Eidsteddfod-optrede, ons hokkiespelers wat Bolandspanne haal en vele meer.
96 projekte by vanjaar se Gr. 9-ekspo uitgestal
GRAAD 9’S BEDINK EN BEPROEF HIPOTESES
ERTRU HATTINGH
Donderdag 8 Mei 2025 het 157 Graad 9-leerders grootoog en opgewonde opgedaag by Bloemhof se sentrum vir die uitstalling van hul navorsingsprojekte. Hierdie was die hoogtepunt van ’n proses wat al aan die einde van hul graad 8-jaar begin het.
In Januarie 2025 het die leerders hul onderwerpe in hipoteses geskryf en is ’n onderwyser as mentor aan elke groep toegeken. Die hele proses, van die navorsingsmetode en hoe om ’n navorsingsverslag te skryf, is in afdelings opgebreek, sodat dit nie oorweldigend moes wees nie en elke stap van die proses deeglik gemonitor kon word. Die leerders kon enige onderwerp kies wat vir hulle interessant is en moes dan die volledige navorsingsstrategieë daarop toepas om hul hipotese te bewys.
Projekte kon in vier hoofkategorieë val, naamlik Wetenskaplike-, Ingenieurs-, Sosiale Wetenskap- en Wiskundige-/Teoretiese projekte. Onder hierdie vier hoofgroepe kan die projekte dan in die 13 kategorieë van die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes verdeel word. Daar was vanjaar 96 projekte in totaal, waarvan 60 groepsprojekte en 36 individuele projekte was.

31 beoordelaars is vanaf die Universiteit Stellenbosch, Universiteit van Kaapstad, sowel as die privaatsektor gewerf. Hierdie beoordelaars kon die leerders blootstel aan ander standaarde en sieninge. Aanvanklik was die leerders baie senuweeagtig, maar soos die dag gevorder het, het die leerders die interaksie met die beoordelaars baie geniet. Elke dame was geweldig trots op wat sy gedoen het en kon met selfvertroue oor haar projek gesels.
Die beoordelaars was mateloos beïndruk met die standaard van die projekte, netheid en kreatiwiteit van die plakkate, sowel as die Bloemhoffers se entoesiasme en selfvertroue. Hulle kon ook nuttige en waardevolle voorstelle maak hoe die projekte in die toekoms verbeter kan word.






Uit hierdie 96 projekte sal daar nou 20 projekte gekies word om vanjaar aan die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes se Wes-Kaap Streeksekspo deel te neem. Dié rondte sal op 21 en 22 Augustus plaasvind.
Ons wens die leerders alle sterkte toe met die volgende rondte en is baie trots op wat hulle tot dusver vermag het.
Dié Bloemhoffers gaan SA verteenwoordig
DANIELA EN KATJA VERWERF HUL SA-KLEURE
STEPHAN MEYER
Die Bloemhof Brokkies het reeds berig dat Daniela Viljoen (gr. 11) ’n goue medalje by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se junior kampioenskappe gewen het, en kan nou nóg goeie nuus deel: Sy is by die SA-span ingesluit wat van 16 tot 20 Julie aan die Afrika-kampioenskappe in Nigerië gaan deelneem.
Nóg ’n Bloemhoffer is gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig: Katja de Villiers (gr. 11) speel tans vir die WP raakrugby (touch rugby) en het in April aan die Senior Nasionale Kampioenskappe deelgeneem waar die o.21’s tot in die finaal vorder en ’n silwer medalje wen.
Hierna word sy vir die Touch Boks gekies wat van 31 Julie tot 3 Augustus in Limerick, Ierland gaan deelneem.
Raakrugby is ’n vinnige, nie-kontak weergawe van die tradisionele spel en ses spelers vorm ’n span. Een van die unieke en boeiende elemente van dié sport is die spanformaat: mans en vroue speel soms saam, wat samewerking, taktiese aanpasbaarheid en verbeterde spanwerk bevorder, berig Sport South Africa.
Katja sal die o.18- én die o.20-spanne verteenwoordig wanneer die Touch Boks by die Atlantic Youth Cup op die veld draf.
Eerste Span is Amanda Coetzer-naaswenners
STELLENBOSSERS SPOOK DIT IN FINAAL UIT
STEPHAN MEYER
Die eerste tennisspan het vanjaar as die naaswenners van die gesogte Amanda Coetzer-toernooi uit Bloemfontein teruggekeer. Vir die eerste keer in die toernooi se geskiedenis het twéé Stellenbosch-spanne om die trofee meegeding, met Rhenish wat ons net-net uitoorlê om 3-4 te wen.
Die o.15-span het in die uitspeelrondtes teen Affies vasgeval, maar wen al hul ander wedstryde om 5de te eindig.

Tydens die prysuitdeling word Milla Kotze (gr. 11) en Lara Potgieter (gr. 12) as die beste nommer 1-dubbelspaar aangewys, en Lara is ook die toernooi se beste nommer 7-speler.
Ons o.19’s behaal hierdie uitslae:
wen HS Menlopark 7-0
wen Meisieskool Oranje 4-3
wen HS Waterkloof 7-0
wen HMS Paarl 4-0 in die semi-finaal
verloor 3-4 teen Rhenish in die finaal
Die o.15’s se uitslae lyk soos volg:
wen HMS Paarl 12-6
verloor 2-4 teen Afrikaans HMS Pretoria
wen OMS o.15B 4-2
wen HS Waterkloof 4-0
wen OMS o.15B 5-0 om 5de te eindig
Eisteddfod-seisoen begin op ’n hoë noot vir Accelerando
UITSTEKENDE 92% BY TYGERBERG EISTEDDFOD
DINIE BASSON

Een van die beoordelaars op die Tygerberg Eisteddfod het Bloemhof se koor soos volg beskryf: “Die koor het ’n eteriese klank wat my roer. Hulle het hard gewerk en pluk die vrugte.”
Die woord ‘eteries’ word dikwels in musiek sinoniem met die woorde ‘droomagtig, delikaat, emosioneel roerend en anderwêrelds’ gebruik. Wat ’n enorme kompliment.
“The moment they walked onto the stage, you felt their presence. The magic started even before they uttered a sound.” – Mrs. Beryl Korver
Die koor is vir menigte koorlede ’n plek waar hulle nie net Stellenbosch tieners is nie, maar deur middel van musiek na ’n ander wêreld kan ontsnap. Dinsdag 20 Mei, by die eerste rondte van die Tygerberg Eisteddfod, het die koor juis dit ervaar: ’n droom.
Met ’n gemiddelde punt van 92% glimlag die koor van oor tot oor. Hoewel die koor jaarliks bo 90% presteer by hierdie gesogte eisteddfod, moet dit beklemtoon word: só ’n hoë vlak van koorsang word nie harde werk, toegewydheid en vlytigheid. Die koor oefen getrou elke week, en hul sukses getuig van die ywer van elke individuele lid.
“Die koor het pragtig gesing en net so mooi gelyk!” sê die twee opvoeders aan die hoof van die koor, me. Marijke Roos (dirigent) en me. Suné van Wyk (begeleier en koorbestuurder). “Ons is regtig baie trots op hulle!”
Me. Beryl Korver, wat vir baie van die koorlede Engels gee, was Dinsdagaand in die gehoor. “It was quite extraordinary to sit down, relax and simply enjoy the music,” sê sy. “Our choir just has an aura about them. The moment they walked onto the stage, you felt their presence. The magic started even before they uttered a sound.”
Video’s van die koor se optrede kan hier gekyk word.
IN ANDER MUSIEKNUUS:
Om ’n musiekkonsert aan te bied – alles van eerste reëlings tot die laaste noot – vorm deel van die musiekleerplan en Bloemhof se senior musiekleerders (gr. 10-12) het op Woensdag 14 Mei ’n informele konsert gehou. 16 items is opgevoer en het sang, klavier, tjello en kitaar ingesluit.




Nuwe rekord vir oudleerder
MARLENE DUMAS SE “MISS JANUARY” VIR $13.6M OPGEVEIL
STEPHAN MEYER
Naas Maggie Loubser (M: 1903) is Bloemhof se bekendste oudleerder in die kunswêreld sekerlik Marlene Dumas, wat in 1971 gematrikuleer het. Dumas, wat deesdae in Nederland woon, was die laaste week in die nuus nadat een van haar olieskilderye, “Miss January”, by die veilingshuis Christies in New York onder die hamer was en vir ’n rekordbedrag van $13.6 miljoen (sowat R244 miljoen) verkoop is.
Die 1997-skildery van ’n halfnaak blonde vrou is reusagtig: 2.83m hoog en 1m breed. “Through its monumental scale and singular subject matter, Miss January is truly the magnum opus of Marlene Dumas,” verduidelik Sara Friedlander, die ondervoorsitter van na-oorlogse en kontemporêre kuns by Christie’s. “In this painting, Dumas triumphantly demonstrates a formal mastery of the woman’s body while simultaneously freeing it from a tradition of subjection, upending normalized concepts of the female nude through the lens of a male-centric history,” she added.
Dumas is bekend vir haar portrette – dikwels van vroue – wat sielkundig kompleks en emosioneel gelaai is. Haar werk verken temas wat seksualiteit, ras, hartseer, moederskap en die liggaam ondersoek, soms tot die ontsteltenis van die kyker, maar altyd tot die verruiming van denke. Die volledige portret kan hier gesien word.
“Om te skilder gaan daaroor om ’n mens se vrese te verken, maar ek voel ook dat dit op een of ander manier mooi kan wees,” sê Dumas in ’n oudiogids vir die Museum of Modern Art (MoMA) in Manhattan, New York. Sy meen een van die kriteria vir haar om ’n werk te kan doen, “is wanneer dit my ’n bietjie bang maak.”
Die transaksie het ’n nuwe rekord vir ’n lewende vroulike kunstenaar opgestel, maar dit lewer tog kommentaar op die gender gaping wat ook in die kunswêreld aanwesig is. Volgens CNN se Jack Guy word die werke van manlike kunstenaars steeds teen veel hoër bedrae as dié van hul vroulike eweknieë verkoop. “And the gender gap in valuations is a systemic issue,” sê hy. “According to 2022 BBC documentary ‘Recalculating Art’ [...] works by female artists sell for 10% of the value of those by men.”

“Amy – Back to (Homage to Amy Winehouse)” is die enigste van Dumas se werk wat tans in die Bloemhofversameling is en kan in die skool se voorportaal gesien word. Lees op bl. 163 van Bloemhof se Gedenkboek meer oor Marlene Dumas.
Boland kondig hul hokkiespanne aan
17 BLOEMHOFFERS IN BOLAND HOKKIESPANNE
STEPHAN MEYER

Vanjaar is nie minder nie as 17 Bloemhoffers tydens proewe deur Boland Hokkie vir hul spanne geïdentifiseer. Die A- en B-spanne sal later vanjaar aan interprovinsiale toernooie deelneem, terwyl die C-spanne in streekstoernooie kragte gaan meet. Die spelers wat gekies is, is soos volg:
Boland o.18: Elré Oosthuizen (o.18A), Emeri Botes, Lise de Villiers en Nina Louw (o.18B)
Boland o.16: Klara-Lea Basson en Zani Boezaart (o.16A), Madelie Botes en Elaine van Harte (o.16B), Carli Bayer, Gisela du Toit en Micah de Wet (o.16C).
Boland o.14: Jesse Niemand en Lila Pienaar (o.14A), Bella Grobbelaar, Mila Moolman en Manina Stoffberg (o.14B), asook Isabella du Toit (o,14C).
“Baie geluk aan al ons Bloemhoffers wat die Boland Hokkiespanne vir 2025 gehaal het. Ons wens julle alle sterkte toe vir julle toernooie wat in die Julieskoolvakansie plaasvind,” sê me. Jamie Smith, Bloemhof se sportbestuurder vir hokkie. “Ons ondersteun julle en weet julle sal ons skool en julle ouers trots maak.”
Ander sportuitslae van die afgelope twee weke:
Netbal
Netbal teen HS Paarl Gimnasium (9 Mei 2025 by Bloemhof)
Bloemhof speel 30 wedstryde teen Paarl Gimnasium, waarvan slegs die o.16A’s en o.15H’s hul wedstryde wen. Een span, die o.17D’s, speel gelykop:
o.14A verloor 19-24, o.14B verloor 8-14, o.14C verloor 8-25, o.14D verloor 12-18, o.14E verloor 11-18, o.14F verloor 6-17, o.14G verloor 8-14, o.14H verloor 8-14.
o.15A verloor 17-25, o.15B verloor 18-21, o.15C verloor 11-15, o.15D verloor 9-14, o.15E verloor 10 -12, o.15F verloor 6 - 17, o.15G verloor 4-13, o.15H wen 6-4.
o.16A wen 19-18, o.16B verloor 12-23, o.16C verloor 9-25, o.16D verloor 8-27, o.16E verloor 4-21, o.16F verloor 9-24.
o.17A verloor 14 - 28, o.17B verloor 18 - 25, o.17C verloor 18-22, o.17D gelykop 12-12.
o.18A verloor 22-32, o.18B verloor 5-38, o.18C verloor 10-33, o.18D verloor 3-31.
Netbal teen HS Paarl Gimnasium (12 Mei 2025 by Bloemhof)
Drie wedstryde teen Paarl Gimnasium se laer spanne het op 12 Mei by Bloemhof plaasgevind en Bloemhof het al drie dié wedstryde gewen:
o.14G wen Paarl Gim o.14I 31-5, o.14H wen Paarl Gim o.14J 12-4, o.16F wen Paarl Gim o.16G 17-15.
Netbal teen HMS La Rochelle (13 Mei 2025 by Bloemhof)
Die A- en B-spanne speel ligawedstryde teen La Rochelle:
o.14A verloor 12-18, o.14B verloor 20-21
o. 15A speel gelykop 15-15, o. 15B verloor 16-17
o.16A wen 20-19, o.16B wen 20-6
o.17A wen 22 - 16, o.17B wen 20 - 13
o.18A verloor 23-29, o.18B verloor 14-20
Netbal teen Bridge House (15 Mei 2025 by Bloemhof)
Bridge House se A- en B-spanne speel teen Bloemhof se laer spanne:
o.14E verloor 11-12 teen Bridge House o.14A, o.14F wen Bridge House o.14B 19-8
o.15E verloor 3-20 teen die o.15A’s, o.15F wen die o.15B’s 18-5
o.16E wen die o.16A’s 12-8
o.18C speel 16-16 gelykop teen Bridge House o.18A, o.18D verloor 8-27 teen hulle o.18B’s
Netbal teen HMS Paarl (21 Mei 2025 by Bloemhof)
Die laaste wedstryde van die A-liga is teen Girls’ High gespeel en al wedstryde word deur die Paarliete gewen:
• o.14A verloor 17-24, o.15A verloor 7-17, o.16A verloor 19-27, o.17A verloor 14-29, o.18A verloor 21-34
Hokkie
Hokkie teen HS Paarl Gimnasium (9-10 Mei by Bloemhof)
Drie spanne wen hul wedstryde teen Gim: o.16C, o.16D en o.19C.
o.14A speel gelykop 2-2, o.14B verloor 0-4, o.14C verloor 0-2
o.16A verloor 0-3, o.16B verloor 0-3, o.16C wen 2-1, o.16D wen 6-2
o.19A verloor 1-2, o.19B verloor 1-2, o.19C wen 3-0, o.19D speel gelykop 1-1
Hokkie teen HS Strand (13 Mei in die Strand)
o.16E wen HS Strand o.16B 4-1
o.19D verloor 0-3 teen HS Strand o.19B
Hokkie teen Reddam House Constantia (16 Mei by Bloemhof)
o.14A wen 2-0
o.16A wen 2-1, o.16B wen die o.19B’s 5-0, o.16C wen die o.16B’s 9-0
o.19A wen 2-1
Hokkie teen Somerset College (21 Mei by albei skole)
o.14A wen 3-0, o.14B wen 6-0
o.16A wen 2-0, o.16B wen 3-0
o.19A wen 4-0, o.19B wen 9-0
Landloop
Skole-liga: Boland Landbou-byeenkoms (7 Mei 2025)
Juniors:
Gizé Strydom – 4de
Nika van der Merwe – 18deSuniors:
Olivia Schwartz – 2de
Mieke Steenkamp – 4de
Mia de Kock – 8ste
Layla Viljoen – 11de
Skole-liga: Bridge House-byeenkoms (14 Mei 2025)
Juniors:
Lucia Kempen – 4de
Chene Botha – 11de
Mari Louw – 13de
Nika van der Merwe – 19de
Louise de Wet – 27steSuniors:
Olivia Schwartz – 2de
Almi Geyser – 3de
Mieke Steenkamp – 12de
Mia de Kock – 22ste
Layla Viljoen – 26ste
Samaritan’s Feet sê baie dankie!
Phoenix en Samaritan’s Feet SA wil graag vir almal bedank wat skoene tydens vandag se Civviedag geskenk het. Indien daar nog ’n paar bruikbare skoene by die huis is wat vir liefdadigheid geskenk kan word, kan dit nog tot vólgende Vrydag by die Mediateek ingehandig word.

Erekleure: Aansoekproses 2025
Aansoeke vir erekleure in sport en/of kultuur word nou ingewag. Die aansoekproses, asook die skakels na die aansoekvorms, is nou op die skool se webwerf by www.bloemhofschool.co.za/erekleure beskikbaar.
Mandeladag 2025: Pebbles Project Pretloop
Mandeladag val vanjaar in die skoolvakansie, maar Phoenix nooi die Bloemhofgemeenskap uit om 67 minute van hul tyd vir die Pebbles Project te gee.
Pebbles bied ’n pretdraf/stap van 4,5 km by die pragtige Villiera-wynplaas aan om Nelson Mandela se nalatenskap te vereer. Jy kan een of meer lusse van die 4,5 km-roete voltooi gedurende die 67 minute van beweging – ’n huldeblyk aan die 67 jaar wat Nelson Mandela daaraan toegewy het om vir sosiale geregtigheid te veg.
Die toegangsfooi is R100, en alle opbrengste sal Pebbles Project se programme direk ondersteun, wat kinders en gesinne in landelike boerderygemeenskappe ophef deur opvoeding, gesondheid, voeding en welstand.
Vir navrae, reik asb. uit na Erica (erica@pebblesproject.co.za) of Mignon (mignon@pebblesproject.co.za).
NSS-toesighouers 2025
Ons doen graag ’n beroep op ons Graad 8/9-ouers en/of gemeenskapslede wat hulself beskikbaar kan stel as toesighouers tydens die NSS-eksamen. Dit vind vanjaar van 21 Oktober tot 27 November 2025 plaas.
Kwalifiserende kriteria/dokumente wat beskikbaar moet wees, sluit in:
Matrieksertifikaat
Sertifikaat van hoogste kwalifikasie
Bewys van inkomstebelastingnommer
Mag nie ouer as 65 en jonger as 21 wees nie
Mag geen familielid hê wat vir die 2025 NSS-eksamen geregistreer is nie.
Indien u kwalifiseer en belangstel, stuur asb. ’n e-pos aan winnie@bloemhofschool.co.za teen 2 Junie 2025.
Cuppa for CANSA – Gasvroue benodig
Op 9 Augustus bied Bloemhof ’n spesiale ma-en-dogtertee ten bate van CANSA aan. Ons benodig gasvroue vir dié geleentheid. Reik asb. na me. Venessa de Beer uit by venessa@bloemhofschool.co.za indien u by dié geleentheid betrokke wil raak.



Graad 10’s: Aansoeke vir 2026 se Europese toer nou oop!
Alle belangstellende graad 10-leerders kan tot en met 2 Junie 2025 aandui dat hulle in 2026 saam met die skool na Europa wil toer.
Volledige inligting is via die graad 10-graadgroep op WhatsApp en op die d6 met graad 10-ouers gedeel.
Gebruik die volgende skakel om by die aansoekvorm (op Google Forms) uit te kom: https://forms.gle/Yh4Rrj9g5DAdUgwQ8
Rig asb. enige navrae aan me. Kruger by elana@bloemhofschool.co.za
Om in die Bloemhof Brokkies te adverteer, kontak asb. vir me. Dinie Basson by dinie@bloemhofschool.co.za. Meer inligting oor advertensiegeleenthede en kostes is HIER beskikbaar.
Juf. Bosch se eerste Bloemhofverjaarsdag word gevier!
Debat en redenaars: ons sprekers in die streeksfinale
Mej. Feesjaar: Ontmoet die finaliste
Ons doen moeite om die Bloemhof Brokkies so akkuraat as moontlik te publiseer, maar rapporteer asb. foute, deel nuus of gee algemene terugvoer HIER. Die volgende uitgawe van die nuusbrief word vir die einde van kwartaal 2 beplan.
Help skryf! Die Bloemhof Brokkies het joernaliste, redigeerders en proeflesers nodig. Gesels gerus met dr. Revington (marietjie@bloemhofschool.co.za) in kamer 26 as jy betrokke wil raak.
Foto’s vertel stories. As jy hiermee saamstem, word deel van Klub Momentum (Bloemhof se fotografie-vereniging). Kontak vir Emeri Botes in graad 12 (voorstitter) of kom gesels met mnr. Meyer (kommunikasie@bloemhofschool.co.za) – sy kantoor is langs k. 32.
Wil jy by Bloemhof adverteer? Tree in verbinding met me. Dinie Basson (dinie@bloemhofschool.co.za).
Baie dankie aan hierdie uitgawe se medewerkers – almal wat gehelp skryf het, foto’s verskaf het en met die proefleeswerk gehelp het.
Redakteur en samesteller: mnr. Stephan Meyer – stuur gerus ’n e-pos aan kommunikasie@bloemhofschool.co.za om in verbinding te tree.





















