Bloemhof Brokkies 07/2025
Wonderlike netbalnuus, ons gesels met Mej. Feesjaar-finaliste, en ons vier juffrou Bosch se eerste Bloemhof-verjaarsdag. Dít en meer in hierdie uitgawe van die Bloemhof Brokkies.
Netbalspan na nasionale finaal
O.16A’S IS WES-KAAPKAMPIOENE; SEWE SPELERS IN WES-KAAPSPANNE
STEPHAN MEYER

Bloemhof se o.16A-netbalspan het tydens die stormagtige naweek van 7 Junie self ’n storm losgespeel toe hulle by SANS (Suid-Afrikaanse Skole Netbal) se Wes-Kaapkampioenskappe al hul wedstryde gewen het. Die sege tussen die provinsie se topspanne het by die HS Parel Vallei plaasgevind.
Ons o.16’s het tot in die kwarteindronde deurgedring waar ’n maklike oorwinning oor die HS Milnerton (19-5) tot ’n senutergende semi-finaal gelei het. ’n Doel deur Lilah Meyer (gr. 10) in die laaste oomblikke het die oorwinning van 12-11 oor die HS Paarl Gimnasium beklink.
Die finaal teen die HS Stellenberg was ’n toonbeeld van pragtige netbal, en met ’n eindtelling van 18-16 word Bloemhof as die o.16-kampioene gekroon. Dié oorwinning was veral spesiaal vir hul afrigter, me. Zelda Botha, wat daardie dag verjaar het.
Baie sterkte aan Mi-Ly van der Merwe, Lené van den Heever, Lilah Meyer, Mienke Shaw, Lize van Rooyen, Lisa Steenkamp, Fransceska Coetzee, Anri Oosthuizen en Nina van Reenen (almal graad 10) wat van 31 Julie tot 2 Augustus aan die SASN Nasionale Netbalfinaal in Boksburg gaan deelneem! Me. Botha (afrigter) en me. Lida de la Bat (spanbestuurder) sal die span vergesel.

IN ANDER NETBALNUUS
Ons o.17A-netbalspan het op 21 Junie na Bredasdorp gereis waar hulle aan die Wes-Kaapkampioenskappe deelgeneem het. Hulle dring tot in die kwarteindrondte deur, waar hulle uitval. Dit bly nietemin ’n wonderlike prestasie om op daardie vlak te kan deelneem – veels geluk!
Oudleerder Lara Ehlers (matriek 2024) – verlede jaar se o.18A-netbalkaptein – is in die SA-netbalspan opgeneem wat van 4 tot 13 Julie aan die 11de Region 5 Jeugspele in Namibië gaan deelneem. Sasha-Lee Peterson, ons voormalige o.18A-afrigter, is deel van die afrigtingspan. Veels geluk, Lara en Sasha-Lee!
Ons is geweldig trots op ons netbalspelers wat die Wes-Kaap en die Kaapse Wynlande gaan verteenwoordig. Sewe spelers is in Wes-Kaapse spanne opgeneem, en ses sal vir Kaapse Wynland-spanne uitdraf:
Lekker verjaar, juffrou Bosch!
SKOOLHOOF SE EERSTE VERJAARSDAG BY BLOEMHOF GEVIER
STEPHAN MEYER
Wat ’n lekker bederf: Om op die eerste dag van die wintervakansie te kan verjaar… Dit is wat op ons skoolhoof, me. Maré Bosch, wag wat môre (28 Junie) haar verjaarsdag vier.
“Vandag is ons almal saam om Juffrou se effens vroeë verjaarsdag te vier,” het hoofdogter Carlin Keuzenkamp geskerts toe die Bloemhoffers reeds op 26 Mei – voordat die eksamen begin het – haar eerste verjaarsdag by Bloemhof gedenk het.

Me. Bosch se verjaardagvieringe het egter reeds op 14 Mei begin toe die koshuis haar verjaarsdag gevier het, en in haar boodskap aan die skool erken die skoolhoof dat sy “nog nooit so lank en so lekker verjaar nie… Ek verjaar hierdie jaar van 14 Mei tot 28 Junie en dit is vir my nog steeds ’n ongelooflike voorreg om by hierdie skool te wees.”
Die VRL het onder meer vir haar op ’n skattejag deur die skool gelei en gehelp om ’n geskenk van die skool vir haar te laat maak: ’n Raam met vyf gedroogde blomme.
“Elke blom in daardie raam verteenwoordig elke graad,” het Carlin verduidelik. “Die hibiscus verteenwoordig die graad 8’s, die siklaam die graad 9’s, die lelie die graad 10’s, die roos die graad 11’s en die orgidee verteenwoordig die matrieks. Alhoewel daar nog baie blomme in die toekoms deel gaan vorm van Juffrou se “bosch”, is hierdie raam ’n simbool van Juffrou se eerste jaar by Bloemhof en haar grade in 2025.”
Die personeel het onder meer vir hul skoolhoof ’n spesiale boekie met verjaarsdagboodskappe, foto’s en kunswerke gemaak, en op haar beurt het me. Bosch die personeel op die laaste skooldag van die kwartaal met koek-en-tee trakteer.
Blomme is jare lank reeds deel van verjaardagtradisies by Bloemhof; ons vier immers die skool se verjaarsdag met blou, rooi en groen blommekranse. In die Bloemhof 150-gedenkboek word mej. Lucie Joubert se 1921-verjaarsdag (ook haar laaste as skoolhoof) só onthou: “Getrou aan die skool se naam is Miss Lucie se verjaardag op 29 Oktober – gepas in die lentetyd – met blomme gevier. Die Bloemhoffers het die skoolsaal met blomme getooi…”
Me. Bosch het vinnig in die leerders se harte geklim. “Dis min wat ’n mens ’n skoolhoof kry wat ’n mens groet met ’n drukkie…” het Nell Basson (onderhoofdogter) op 26 Mei aan die leerders in die saal gesê. Me. Bosch het die leerders bedank dat hulle in die eerste vyf maande haar gehelp het om so tuis by Bloemhof te voel.
Bea Pool (gr. 9) het die volgende gedig vir me. Bosch geskryf; dit is ook op 26 Mei deur Martelize Geduldt (gr. 9) vir die skool voorgelees:
Bloemhoffer slaan ’n plek in SA-span los
MILLA KOTZE VERWERF NASIONALE KLEURE VIR TENNIS
STEPHAN MEYER
Bloemhof se nommer 1-tennisspeler, Milla Kotze (gr. 11), het haar SA-kleure verwerf en neem in die Julie-vakansie aan die Region 5 Jeugspele in Namibië deel. Sy is een van slegs vier meisies wat vir die span gekies is.
Hulle sal teen verskeie tennisspanne van Suider-Afrika kragte meet en ons hou vir die jong Proteas duime vas. Veels geluk met hierdie merkwaardige prestasie, Mila!
IN ANDER TENNISNUUS:
Ella Jonker (gr. 9) en haar sussie Lisa (gr. 8) het einde Mei in die TSA ProKennex Autumn-toernooi gespeel. Ella het die WS-afdeling (vroue enkelspel) gewen, en Lisa het die o.14GS (meisie enkelspel), o.14GD (meisie dubbelspel) en 0.14MX (gemengde dubbelspel met Liyema Mancoba van Paul Roos Gimnasium) gewen.
Ella Jonker en Lisa Jonker saam met hul dubbelmaats. Foto's: verskaf Nina van Eeden (gr. 12) neem in die vakansie aan ’n oefenkamp in die Amerikaanse deelstaat Florida deel. Sy reis saam met vier spelers van Rhenish en een speler van Girls’ High – baie sterkte, Nina!
Arrivederci, Bea!
DIE BLOEMHOF-RAGAZZA GROET
STEPHAN MEYER


Beatrice Atturo (17) het in Augustus 2024 as uitruilstudent uit Rome, Italië by Bloemhof aangekom en, ten spyte daarvan dat sy geen Afrikaans verstaan het nie en die keuse gehad het om eerder Rhenish by te woon, besluit sy wíl ’n Bloemhoffer word. Sy het die Engelsklasse bygewoon (soms sommer Home Language én FAL), en ook IGO geneem. Soms was sy ook in die geskiedenisklas wanneer daar films en dokumentêre gekyk is.
Tydens die kwartaal se laaste saalbyeenkoms het sy die geleentheid gehad om haar Bloemhoffamilie te groet:
“At the beginning, I didn’t even have the time to feel lost or alone, because this school made time for me, included me, and wanted me to be part of all of this, even if I had no clue of what ‘dankie’ meant. I was not expecting to find a family, a community. Now, in my last assembly, I can say that I feel part of this family as well, as if I would have always been here.”
Wat is die één ding wat vir haar uitgestaan het? Sy noem natuurlik dat die uniform vir haar baie mooi was en dat sy bly is sy kon “baadjietrots” ervaar. “But mostly Bloemhof made me understand the importance of inclusion. Inclusion with a smile, with a hug, with a compliment, or with compassion. I want to leave this school saying one thing: I understood that the key, in life, is support. Because it’s through support that we grow, that we feel seen, that we find the strength to become who we’re meant to be.”
Beatrice vlieg eersdaags terug Rome toe, en sy erken dat sy tog na die huis verlang. Maar sy keer weer in Oktober vir die matriekafskeid terug. Ons het dus nog nie die laaste van die Bloemhof-ragazza gesien nie!
Grazie per essere una di noi. Tu, Bea, sarai per sempre una Bloemhoffer.
Bloemhofbond het nuwe dagbestuur
2004-HOOFDOGTER TOT VOORSITTER VERKIES
STEPHAN MEYER
Op Donderdag 5 Junie is ’n nuwe dagbestuur vir die Bloemhofbond – ons oudskolierevereniging – verkies.
Veels geluk aan die nuwe voorsitter, me. Barbara-Jeanne Slazus (2004), wat by die uittredende voorsitter, me. Hette-Lize Marshall, (Walters, 1991) oorneem. Die nuwe ondervoorsitter is me. Jean Rossouw (Carinus, 1994) terwyl me. Liesl Visser (Van Rensburg, 2004) as die nuwe tesourier sal dien.
“Die Bondbestuur is baie opgewonde oor die nuwe seisoen wat voorlê,” sê me. Slazus, wat in 2004 Bloemhof se hoofdogter was. “Ons dink kreatief en strategies oor hoe om die volgende hoofstuk met energie en vars idees aan te pak.” Sy meen dit is vir die nuutverkose bestuur belangrik om ou bande te versterk, nuwe geleenthede te skep, en die netwerk van oudleerders lewendig en relevant vir die 21ste eeu te maak.
Op die Bloemhofbond se Instagram en Facebook-blad skryf me. Ronél Sperling, wat as die Bond skakelbeampte dien, dat hulle na die leiding en visie van die nuwe dagbestuur uitsien. “Ons weet dat hulle die werk met toewyding en entoesiasme sal aanpak. Ons bring ook ’n spesiale woord van dank aan die uitgetrede voorsitter, Hette-Lize Marshall, (Walters, 1991) vir haar lojale diens, jarelange harde werk en waardevolle ondersteuning aan die Bond. Haar bydrae het ’n blywende impak gemaak en ons wens haar alles van die beste toe vir die toekoms.”
Mejuffrou Feesjaar op 23 Julie gekroon
ONTMOET DIE 10 FINALISTE
DINIE BASSON
Tien matrikulante sal op Woensdag 23 Julie op die sentrumverhoog te sien wees in die VRL se Mej. Feesjaar-kompetisie. Dié geleentheid word met trots deur Isa Carstens Academy, THE CREATED en Papillon Dress Hire ondersteun.
Watter een van die finaliste was al op die hoogste piek in Afrika? Watter een wil neus-in-die-lug in Frankryk gaan rondloop? Watter een was al in die tronk? Ons het vir elk van die finaliste gevra om ’n interessante feit oor hulself met ons te deel, drie dinge te lys wat hulle graag doen en vir ons te vertel wat hulle hoop om ná Bloemhof te bereik. Mnr. Stephan Meyer het dié foto’s van die meisies geneem.
Anais de Beer



Anais het in graad 10 Kilimanjaro geklim.
Sy hou daarvan om avonture aan te pak, met haar sussie tyd te bestee, en om saam met haar familie vakansie te hou.
Haar motto: “Moenie die lewe te ernstig opneem nie.”
Ná skool wil sy ’n plastiese chirurg word.
Linki-Mari Volschenk



Linki-Mari hou van insekte en vang graag spinnekoppe.
Sy hou daarvan om video’s te maak, skryf graag gedigte en DJ dikwels in haar kamer.
Haar motto: “Be kind to everyone, even if they aren’t with you.”
Wat wil sy ná skool gaan doen? In Ibiza gaan DJ, natuurlik!
Hayley Basson



Hayley het haar hele lewe lank gedink haar hond was ’n tefie en vir HOM die naam Bella gegee totdat sy eendag die biologiese aspekte verstaan het en agtergekom hy was ’n reun. Maar sy naam bly Bella.
Sy hou daarvan om te hardloop, saam met mense te wees en bak graag.
Haar motto: “It’s not that deep.”
Haar droom vir die toekoms? Om ’n Matie te wees en dan wil sy graag eendag in die stad in groot kantore gaan werk.
Kirsten van Reenen



Kirsten meen sy kan deur enigiets slaap indien jy haar uitlos.
Sy hou juis van slaap, maar ook om nuwe plekke te verken en te lees.
Haar motto: “Werk hard, speel hard.”
Sy wil ná skool Frankryk toe gaan om aromachology te studeer. Dis reukpsigologie, of die wetenskaplike studie van reuk se invloed op emosies en gedrag.
Mieke Eek



Mieke bieg dat sy in die laerskool haar handboeke vir pret gelees het en van toe af nooit weer aan een geraak het nie.
Sy bring graag tyd saam met haar vriende deur, maar hou daarvan om te sing en probeer graag om klavier te speel.
Haar motto: Leef lig, lag hard, en laat gaan wat jou nie dien nie.
Mieke se planne vir volgende jaar is om “net so ’n lekker tyd soos op skool te hê”.
Yara Langeveldt



Yara kan nie koffie drink nie, maar wil eendag “spin” – en nee, dit het niks met katte, weefstof of fietse te doen nie. Dit verwys na die opwindende en soms gevaarlike motorsport waar hoë spoed en sirkelvormige bestuurstyle met toertjies (wat binne en buite die voertuig uitgevoer word) gekombineer word.
Sy hou daarvan om kunstig te wees en alleen te wees. Sy kyk graag spinning.
Haar motto: “There’s no such thing as a life better than yours”. – uit “LOVE YOURZ” deur J. Cole.
Ná skool wil sy gaan studeer, ’n lewe vir haarself maak, terug kan gee en die lewe net geniet.
Millie Hurter



Millie is deel van ’n kompeterende gesin en hulle race mekaar elke jaar in die Cape Town Cycle Tour.
Sy hou daarvan om te gaan bergklim, bestee graag tyd saam met haar vriende en familie en is mal oor Desembervakansies by die see.
Haar motto: “All our dreams can come true, if we have the courage to pursue them.” – Walt Disney
Millie hoop om ná Bloemhof net een ding te wees: “ek wil die beste weergawe van myself word.”
Lia West



Lia het ’n ervaring soos min: “Toe ek vyf jaar oud was, het ons Amerika toe gevlieg, maar moes ’n noodstop in Duitsland maak sonder visums en eindig toe op in die tronk vir ’n aand…”
Sy hou daarvan om in die winkels rond te stap, tyd met haar vriendinne deur te bring, en om in die see te swem.
Haar motto is dan juis heel gepas: “Just keep swimming.”
Ná skool hoop sy om die wêreld plat te reis en die geleentheid te kry om op verskillende plekke te gaan werk.
Ruth Goliath



Ruth oefen elke dag van haar lewe en gaan hopelik eendag die Comrades hardloop. Al kan sy nie eers ’n goeie eier bak nie, het sy ander talente – soos die vermoë om ál die woorde van die Mamma Mia-film uit haar kop te ken.
Sy hou van draf (met ’n Comrades-droom moet ’n mens!), sy is mal oor gesels en gaan graag saam met haar ma na winkelsentrums toe.
Haar motto is Jeremia 29:11: “For I know the plans I have for you,” declares the Lord, “plans to prosper you and not to harm you, plans to give you hope and a future.”
Sy wil graag eendag ’n familieprokureur word.
Lasea Andrag



Lasea is ons laaste finalis, maar het ongelukkig nie vir ons enige inligting gestuur nie.
Juniors se toneelkamp “misluk” toe nie
BAIE ENTOESIASME ONDER JONG TONEELSPELERS
DINIE BASSON
Die junior toneelgroep het op 30 en 31 Mei hul jaarlikse toneelkamp by die skool gehad. Dit was beslis ’n ervaring wat dié groep altyd sal koester en hulle “mis” die tyd wat hulle saam deurgebring het.
Vanjaar se produksie handel oor twee matrieks, Elana (Mikayla Koen) en Tina (Emma Louw) wat die tienertoneel-beoordelaars met ’n Gen Z-weergawe van die bekende toneelstuk Mis deur Reza de Wet wil beïndruk. Hul drome word egter verpletter wanneer hulle hul tegniese intrek totaal en al MISloop.
Alhoewel die kamp groot pret was, is daar ook baie hard gewerk. Die stel is geverf en die verskeie tonele is in besondere detail afgerond. Die groep se passie vir teater is die dryfkrag agter hul toewyding, entoesiasme en uithouvermoë.
MISluk sal op die volgende datums op die planke wees:
24 Julie by die Pronk Podium Toneelfees (HS Durbanville)
31 Julie by die Logan Toneelfees in Fraserburg
7 Augustus by die Klein Libertas Toneelfees (Drostdy-teater op Stellenbosch)
26 Augustus om 15:00 by die ATKV-Tienertoneel (Baxter Teater)
Dié produksie beloof beslis om een te wees wat mens nié wil MISloop nie!
IN ANDER TONEELNUUS:
Bloemhof se Chrystal Conradie (gr. 9) is op die kassie! Kyk uit vir haar in Semi-Soeter, wat nou op Netflix te sien is. Sy sal ook binnekort in die kortfilm Alma op pad te sien wees. Dit vertoon by die Silwerskermfees en die lokprent kan hier gesien word.
Bloemhoffer-dansers presteer
“CELEBRATION OF DANCE” GEHOU
STEPHAN MEYER
Elke twee jaar kom dansers vir ’n “Celebration of Dance” in Bellville byeen waar verskeie dansdissiplines – van hip-hop tot moderne dans – in die kollig is. Vanjaar het dié kompetisie se eerste rondte van 16 tot 24 Mei plaasgevind en 17 dansskole het deelgeneem.
Individuele dansers en groepe kon inskryf, maar moes die beoordelaars werklik beïndruk om vir die finale rondte te kwalifiseer – ’n minimumpunt van 85% was hiervoor nodig.
Veels geluk aan dié leerders wat almal in die finaal gehaal het:
Buitesportsoorte
Boogskiet
Layla Viljoen (gr. 10) het aan die einde van Mei aan die Knysna Loerie Quattro-boogskietkompetisie deelgeneem waar sy eerste geëindig en sommer drié nasionale rekords verpletter het! Welgedaan, Layla! Ons hou duime vas vir Protea-kleure!
Karate
Mia Visser (gr. 9) het aan die begin van Junie aan die Western Cape Martial Arts Federation se Karatekampioenskappe deelgeneem en in twee items (Kumite en Kata) derde plekke verower. Welgedaan, Mia!
Netbal
Netbal teen Rustenberg Girls’ High School (23 Mei 2025)
o.14C wen RGHS se o.14A’s 19-10, o.14D wen die B-span 34-8
o.15C wen RGHS se o.15A’s 30-5, o.15D wen die B-span 18-5
o.16C verloor 21-22 teen RGHS o.16A, o.16D wen die B-span 27-5
o.17C wen RGHS se o.17A’s 32-5
o.19B verloor 25-37 teen RGHS se eerste span
Netbal teen HMS Paarl (30 Mei 2025)
o.14’s: A verloor 20-21, B verloor 17-30, C verloor 10-27, D wen 16-14, E verloor 13- 20, F verloor 16-22, G verloor 4-27 en H verloor 3-22.
o.15’s: A verloor 16-26, B wen 20-12, C wen 15-13, D verloor 15-16, E verloor 10 - 23, 15 verloor 10 - 13, G wen 14-8 (maar verloor 3-25 teen Girls’ High o.16H’s), H verloor 3-8 (en verloor 6-17 teen Girls’ High se o.14I-span).
o.16’s: A verloor 23-28, B verloor 10-18, C verloor 14-26, D verloor 12-34, E verloor 3-27, F verloor 9-29, E wen Girls’ High o.17E’s 27-4, o.16F verloor 5-28 teen Girls’ High se o.16G’s.
o.17’s: A verloor 20-25, B verloor 11-28, C verloor 14-16, D verloor 16-21, maar wen Girls’ High se o.17E’s 20-14.
o.18’s: A verloor 29-34, B verloor 16-28, C verloor 12-20, D verloor 9-29.
SASN Wes-Kaapkampioenskappe (7 Junie vir o.16’s, 21 Junie vir o.17’s)
o.16A: wen HS Hermanus 26-6, wen Nomzamo Sekondêr 15-9, wen HS Outeniqua 19-9, wen HS Milnerton 19-5, wen HS Paarl Gimnasium 12-11, wen HS Stellenberg 18-16 in die finaal.
o.17A: wen Luhlaza Sekondêr 18-13, wen Ihlumelo Sekondêr 19-8, verloor teen HS Durbanville 11-15, verloor in die kwarteindrondte 8-21 teen HS Paarl Gimnasium.
Hokkie
Hokkie teen Rustenburg Girls’ High School (23-24 Mei 2025)
o.14’s: A wen 3-0, B wen 1-0, C wen 3-2.
o.16’s: A wen 4-0, B wen 10-0, C wen 6-0, D wen 4-0.
o.19’s: A wen 4-0, B wen 4-1, C wen 4-0.
Hokkie teen HMS Paarl (30 Mei 2025)
o.14’s: A verloor 1-3, B wen 1-0, C wen 1-0.
o.16’s: A wen 3-0, B wen 4-1, C wen 2-0, D wen 4-0, E speel 0-0 gelykop.
o.19’s: A speel 0-0 gelykop, B speel 1-1 gelykop, C wen 2-1, D speel 0-0 gelykop.
Doktor Geldenhuys en PRP
Al ooit gewonder waarmee Dr. Marcelle Geldenhuys besig was voordat sy by Bloemhof aangesluit het? Kyk hier hoe PRP-terapie die herstel van sportbeserings versnel!
Bloemhof 150 Musiekfees
Ons nooi die Bloemhofgemeenskap uit om op 2 Augustus om 19:00 die Bloemhof 150 Musiekfees by te woon. Kaartjies kan via Quicket bespreek word.
Mandeladag 2025: Pebbles Project Pretloop
Mandeladag val vanjaar in die skoolvakansie, maar Phoenix nooi die Bloemhofgemeenskap uit om 67 minute van hul tyd vir die Pebbles Project te gee.
Pebbles bied ’n pretdraf/stap van 4,5 km by die pragtige Villiera-wynplaas aan om Nelson Mandela se nalatenskap te vereer. Jy kan een of meer lusse van die 4,5 km-roete voltooi gedurende die 67 minute van beweging – ’n huldeblyk aan die 67 jaar wat Nelson Mandela daaraan toegewy het om vir sosiale geregtigheid te veg.
Die toegangsfooi is R100, en alle opbrengste sal Pebbles Project se programme direk ondersteun, wat kinders en gesinne in landelike boerderygemeenskappe ophef deur opvoeding, gesondheid, voeding en welstand.
Vir navrae, reik asb. uit na Erica (erica@pebblesproject.co.za) of Mignon (mignon@pebblesproject.co.za).
Om in die Bloemhof Brokkies te adverteer, kontak asb. vir me. Dinie Basson by dinie@bloemhofschool.co.za. Meer inligting oor advertensiegeleenthede en kostes is HIER beskikbaar.
Queens: vier Bloemhoffers neem deel aan skaaktoernooi
Bloemhofbondprys: Ons gesels met die finaliste
Debat en Redenaars: Al die uitslae van kwartaal 2
Ons doen moeite om die Bloemhof Brokkies so akkuraat as moontlik te publiseer, maar rapporteer asb. foute, deel nuus of gee algemene terugvoer HIER. Die volgende uitgawe van die nuusbrief word vir Vrydag 25 Julie beplan.
Help skryf! Die Bloemhof Brokkies het joernaliste, redigeerders en proeflesers nodig. Gesels gerus met dr. Revington (marietjie@bloemhofschool.co.za) in kamer 26 as jy betrokke wil raak.
Foto’s vertel stories. As jy hiermee saamstem, word deel van Klub Momentum (Bloemhof se fotografie-vereniging). Kontak vir Emeri Botes in graad 12 (voorsitter) of kom gesels met mnr. Meyer (kommunikasie@bloemhofschool.co.za) – sy kantoor is langs k. 32.
Wil jy by Bloemhof adverteer? Tree in verbinding met me. Dinie Basson (dinie@bloemhofschool.co.za).
Baie dankie aan hierdie uitgawe se medewerkers – almal wat gehelp skryf het, foto’s verskaf het en met die proefleeswerk gehelp het.
Redakteur en samesteller: mnr. Stephan Meyer – stuur gerus ’n e-pos aan kommunikasie@bloemhofschool.co.za om in verbinding te tree.