Bloemhof Brokkies 08/2025
Die derde kwartaal het met ’n spoed begin en ons spog (uiteindelik!) met talle hoogtepunte: Debat en redenaars, mej. Feesjaar, leerderleiers, en al die sportuitslae van die Julie-vakansie.
Nasionale tweede plek vir jong debatspan
MIA PECORARO IS ATKV SE BESTE JUNIOR DEBATTEERDER
DINIE BASSON

Die Bloemhoffers het opnuut hul uitsonderlike debatvernuf by vanjaar se ATKV-Debatsfinaal, wat op 4 Augustus 2025 by Goudini Spa plaasgevind het, bewys. Die kompetisie, wat jaarliks van stapel gestuur word om Afrikaanssprekende jongmense se redenaarsvermoë te slyp, het vanjaar weer van die land se beste jong debatteerders saamgebring — en Bloemhof het beslis hul merk gemaak.
In die junior afdeling het Ella Jonker, Mia Pecoraro en Emma Nel as naaswenners geëindig – ’n ongelooflike prestasie te midde van baie sterk kompetisie. Mia is ook as die ATKV se beste junior debatteerder aangewys.
Die juniors se onderwerp – of Suid-Afrikaanse realiteitsprogramme werklik die werklikheid weerspieël – het van deelnemers vereis om krities na populêre kultuur en sosiale invloede te kyk. Volgens Mia was dit juis dié kompleksiteit wat haar en haar span behoorlik laat dink het: “Die grootste uitdaging van vanjaar se ATKV-onderwerp was vir my om saam met my span tot ’n gemeenskaplike begrip van die term ‘werklikheid’ te kom”, sê sy. “Omdat hierdie begrip so wyd strek en verskillende mense se daaglikse ervarings, emosies en optredes insluit, was dit moeilik om op ’n duidelike definisie te besluit.”
Mia het reeds van laerskooltyd ’n liefde vir redenaars en openbare gesprek ontwikkel, maar dit is die spanwerk van debat wat haar werklik aangetrek het. “Die span-element van debatvoering het my veral geïnteresseer, en my gunsteling deel daarvan is om saam met my spanmaats te werk. Ek kon beslis nie vir beter spanmaats gevra het nie – baie dankie, Emma en Ella!”

Soos met enige groot kompetisie, was daar ook uitdagings. Vir Mia was dit veral belangrik om haar senuwees te beheer. Sy meen om aan so ’n groot kompetisie deel te neem – dit is immers die ATKV se nasionale finaal – beteken dat ’n bietjie angs gewaarborg word. “Om my senuwees te beheer, is gebed iets wat vir my baie rustigheid bring,” sê sy.
Oor haar toekenning as beste junior debatteerder sê sy nederig: “Dit was ’n groot en gelukkige verrassing. Ek sou dit nooit sonder die hulp van juffrou Van Vuuren en my spanmaats kon doen nie. Ek is baie dankbaar vir die talente wat ek ontvang het en vir almal wat dit vir my moontlik gemaak het om hierdie erkenning te ontvang.”
Vir ander jong debatteerders het Mia eenvoudige maar kragtige raad: “Om te glo dat jy iets kan doen, is altyd die eerste stap. Jy hoef nie noodwendig dadelik met kompetisies te begin nie – oefening saam met ander help baie. Moenie jou antwoorde oordink nie en vertrou op jou vermoëns.”



In die senior afdeling het Bloemhof se eie dream team Delinda Quinot en Gabbi Spammer (albei in graad 12) ook uitstekende werk gelewer en onder die top 10 nasionale spanne geëindig. Delinda is in 2024 as die beste senior debatteerder aangewys.
Met spanne wat beide tegnies vaardig en inhoudelik sterk is, bewys Bloemhof dat hulle nie net in akademie en kultuur uitblink nie, maar ook leerders voorberei om met stem en visie hul plek in die samelewing vol te staan.
Redenaars deur na nasionale finale
RADIKALE REDENAARS, OPPIE TONG AF EN MEER
LIDA DE LA BAT
Ons redenaarsleerders het hulle ook deur die jaar uitstekend van hul taak gekwyt, en hul plek in verskeie semifinale- en finale rondtes losgepraat. Talle Bloemhoffers het vanjaar met trots aan drie toonaangewende redenaarskompetisies deelgeneem: Radikale Redenaars, Oppie Tong Af, en die ATKV-redenaarskompetisie. Hulle het trots hul standpunte gestel, en vir die gehore hoop gegee vir die toekoms van ons land!

Jesse Nieman en Mikayla Koen het in die Radikale Redenaars-kompetisie deurgedring na die junior semifinale rondte, terwyl Leandri Bekker die seniors ook by hierdie rondte verteenwoordig het.

By die ATKV-kompetisie is Bloemhof goed by die semifinaal verteenwoordig, met sewe juniors en 5 seniors wat aan die semifinale rondte deelgeneem het. Hierdie leerders is: Anja van Staden, Isabella du Toit, Linda Pretorius, Mikayla Koen en Tiné van Loggerenberg in die voorbereide afdeling, en Isabella du Toit en Mia Pecoraro in die onvoorbereide afdeling.
Die senior leerders wat ons by die ATKV-semifinale rondte verteenwoordig het, is: Lara van Niekerk, Leandri Bekker, Lise Bruwer en Zea Plekker in die voorbereide kompetisie. Lara het ook ’n provinsiale vyfde plek behaal, terwyl Lise ’n provinsiale tiende plek behaal het.
In die onvoorbereide ATKV-afdeling het Delinda Quinot ’n provinsiale derde plek in die semifinale rondte behaal, waarna sy op 5 Augustus aan die nasionale finaal by Goudini Spa deelgeneem het. In haar onvoorbereide toespraak moes sy daaroor redeneer of die Nasionale Dialoog dit gaan regkry om eenheid en nasiebou onder Suid-Afrikaners te skep, al dan nie.
Anja van Staden, Isabella du Toit en Lara van Niekerk gaan ook die skool in die finale rondte van die Oppie Tong Af-kompetisie in Oktober verteenwoordig, wat in Boksburg, Gauteng plaasvind. Baie sterkte, Dames!

Ruth Golliath as mej. Feesjaar gekroon
’N SKOONHEIDSKOMPETISIE WAAR PRET DIE OORHAND HET
STEPHAN MEYER
Dit is nie jou tipiese skoonheidskompetisie nie, en die wenner van vanjaar se Mejuffrou Feesjaar is ewe buitengewoon. Wou sy wen? Nee – sy wou nie eers inskryf nie. Maar die beoordelaars én die gehoor was dit eens: Ruth Goliath was die aand se gunsteling.
Ruth is een van tien matrikulante wat op 23 Julie aan die VRL se mej. Feesjaar deelgeneem het en is as die aand se wenner gekroon. Hayley Basson en Kirsten van Reenen, as haar twee prinsesse, was die naaswenners. Die drie wenners het elk met ’n Isa Carstens-geskenkpak en geskenkbewyse van THE CREATED weggestap. Annalien Spies (gr. 11) is aangewys as 2026 se Vonkelmeisie.



Ruth erken dat sy glad nie gedink het sy gaan wen nie. “Ek weet nie wat is denial in Afrikaans nie, maar ek is steeds daarin,” sê sy. Sy wou aanvanklik nie vir mej. Feesjaar inskryf nie, maar ’n maat het haar oorreed om dit te doen. “Dis danksy Liela van Zyl, want sy het my oortuig. Liela het net gesê: ‘Ruth, skryf in, jy’t niks om te verloor nie.’ Nou is ek is glad nie spyt ek het ingeskryf nie!”
Die “kompetisie” – dit was eerder ’n geleentheid om pret te hê, meen die deelnemers – is deur vier beoordelaars beslis. Hester-Helene Burger, Isa Carstens Academy se uitvoerende bestuurder, is deur drie oudleerders bygestaan: Anine Smit (M: 2021), Abigail Reynolds (M: 2022) en Liza Human (M: 2024). Liza, wat die afgelope twee jaar baie sukses as ’n Instagram-smaakmaker beleef, het geen bekendstelling nodig nie. Anine is self ’n model en word deur Topco Models verteenwoordig, terwyl Abigail as ikoniese lid van 2022 se Geeskomitee wéét wat dit verg om persoonlikheid te hê.









Buiten Ruth, Hayley en Kirsten het Linki-Mari Volschenk, Lasea Andrag, Yara Langeveldt, Lia West, Millie Hurter, Anais de Beer en Mieke Eek elk aan drie rondtes deelgeneem. Eers moes hulle ’n bekende duo uitbeeld, daarna was die kategorie “Só sal jy my nooit sien nie” en uiteindelik kon hulle in pragtige rokke van Papilon Dress Hire op die loopplank verskyn.

Die top 5-deelnemers – Ruth, Mieke, Haley, Kirsten en Millie – is aangekondig en moes elk ’n vraag beantwoord. Dit was veral hier waar Ruth die gehoor se harte gewen het toe sy vertel hoe spesiaal die gedenkstaptog van 14 Maart 2025 vir haar was. Dís waar sy geweet het sy is deel van iets groter as syself.
Die beoordelaars het nie lank nodig gehad om te weet watter dame die kroon moes kry nie, maar het wel ’n oomblik geneem om op die twee prinsesse te besluit, want die punte het soos ’n Bloemhof-merietelys gelyk.









Vir Ruth was almal wenners. “En ek weet dis ’n cliché, maar ek dink daar was nooit enige bad blood tussen ons nie. Ons het almal voor die wenners aangekondig is, mekaar omhels en ons metgeselle het ook vir ons gesê hoe goed ons gelyk het. Daar was nie regtig enige kompetisie tussen ons nie, en dit was wat dit so spesiaal gemaak het.”
Ruth noem dat die metgeselle – hoofsaaklik manne van PRG, maar ook ’n Hoërskool Stellenbosser – beslis tot die aand se sukses bygedra het. “Ek sou nie gewen het as dit nie vir Jan-Jan [Nel] was nie. Hy moes Dinsdag rugby oefen en kon nie by die repetisie wees nie, so ek moes saam met Linki oefen en toe vir Jan-Jan verduidelik wat hy moes doen. Maar hy het die middag voor die kompetisie opgedaag, ek het vir hom gesê ‘Jan-Jan, ons moet oor twee ure hierdie en dan daardie doen’, en hy het net opgedaag. Hy het vir my my oomblik gegee en vir my agter die verhoog gesê ‘Ruth, jy gaan wen’. En hy was reg.”

Veels geluk aan elke deelnemer, maar ook aan die VRL wat, saam met juffrou Dinie Basson, vir ’n heerlike aand gesorg het.
Nuwe leerderleiers verkies
VRL, HUISLEIERS EN HK AANGEKONDIG
STEPHAN MEYER
Kwartaal drie begin met die opwindende (en senutergende) verkiesing van ons Verteenwoordigende Raad van Leerders (VRL) en vanjaar het 162 Bloemhoffers in grade 8 tot 11 hulself verkiesbaar gestel. Die verkiesing van Huisleiers – met 45 kandidate – het ook plaasgevind en, nadat daar op Maandag 4 Augustus elektronies gestem is, kon die demokratiese proses op Vrydag 8 Augustus met die aankondiging van ons nuwe leerderleiers ten einde loop.
Vir die VRL word vier leerders in graad 8, 9 en 10 verkies, met 10% (14 leerders) uit die graad 11-groep. Veels geluk aan hierdie leerders wat vir die VRL vir die termyn 2025/2026 verkies is:
Graad 8: Lara Greeff, Lané Grobler, Jesse Nieman en Lila Pienaar .
Graad 9: Zani Boezaart, Charlotte Bouwer, Mia Pecoraro en Amelia van Olst.
Graad 10: Martelize Geduldt, Daniella le Hanie, Nichola Pienaar en Helen-Mari Stofberg.
Graad 11: Tachin Adams, Chanika Arnolds, Mieke Britz, Mari du Plessis, Tertia du Plessis, Chani du Preez, Isabel Lutz, Tamryn Rousseau, Olivia Schwartz, Lara Smalberger, Annalien Spies, Melite Stimie, Janka Strauss, Simone van der Merwe.
Vanjaar is 18 huisleiers – ses per huis – verkies. Dit is anders as die nege (drie per huis) wat in die verlede aangekondig is. Me. Liezl Balt, die skakelonderwyser vir die huisleiers, verduidelik:
“Die huisleierverkiesingsproses is, na baie navorsing en oorweging, vanjaar aangepas. Ons maak dus nou ses dirigente per huis bekend wat hul huise sal verteenwoordig. Later vanjaar sal daar vanuit daardie groep van 18 dirigente ’n groep van nege huisleiers verkies word, ongeag hul huise. Die nuutverkose huisleiers sal dan die skool by alle skoolverwante geleenthede verteenwoordig.”
Veels geluk aan ons nuwe dirigente:
Huis Hofmeyr: Mia Botha, Jana Brand, Mieka Cronje, Makayla du Plessis, Lara Gericke en Emma Watts.
Huis Joubert: Lara Jooste, Chanteé King, Mikyla Lacock, Lindsey Laurent, Alet Lourens en Karla Prinsloo.
Huis Neethling: Megan Swanepoel, Lana Swart, Esti van Rensburg, Daniela Viljoen, Isabella Visagie en Emmerie Walters.
Ook Huis Bloemhof het vir hul nuwe Huiskomitee (HK) gestem en die volgende graad 10’s en 11’s is verkies:
Graad 11: Mia Botha, Lise Bruwer, Tertia du Plessis, Lara Gericke, Kaylie Herbst, Kyla le Roux, Alet Lourens, Tamryn Rousseau, Annalien Spies, Janka Strauss, Simone van der Merwe en Emma Watts.
Graad 10: Martelize Geduldt, Mienke Kempen, Nichola Pienaar, Lisa Steenkamp en Elaine van Harte.
Die skool en koshuis se hoofleiers is op Maandag 25 Augustus tydens die leiers se inhuldigingseremonie aangekondig: Bloemhof se hoofdogter vir 2025/26 is Tachin Adams, met Chanika Arnolds wat as onder-hoofdogter verkies is. In Huis Bloemhof dra Janke Strauss die hoofdogterbalkie, terwyl Kaylie Herbst die onder-hoofdogter is. Ons deel in ons volgende uitgawe meer nuus oor ons nuwe hoofleiers.
Bloemhofbondprys-finaliste bekend
ONDERHOUDE MET SES MATRIEKS GEVOER
STEPHAN MEYER
Die Bloemhofbond, ons oudleerdervereniging, het vanjaar ses kandidate gekortlys wat om die gesogte Bloemhofbondprys meeding. “Meeding” is natuurlik nie die regte woordkeuse nie, want al ses van hulle is treffende voorbeelde van leerders wat die skool se waardes uitleef en daarin glo dat bande met hul klasmaats en met hul alma mater ná skool behou moet word. Ons het vir Kate Cornelissen, Lise de Villiers, Jo-Vene Sales, Gabbi Spammer, Bea Visser en Amelie Ward genader om te hoor wat is lekker (en minder lekker) van skool, wat dit beteken om ’n “Bloemhoffer” te wees en wat hulle vandag vir hul graad 8-self sou sê.
Kate, wat beteken dit vir jou om ’n "Bloemhoffer" te wees?
Vir my beteken dit om ’n meisie te wees wat opreg omgee vir ander, altyd bereid is om ’n helpende hand uit te steek wanneer dit nodig is. So iemand oordeel nie ander nie, en behandel almal met gelyke respek. Sy is ’n pligsgetroue jong dame wat altyd haar beste voet vorentoe sit en met ’n positiewe gesindheid na die lewe kyk.
Wat is die lekkerste deel van skool? En dan die omgekeerde… Wat is die deel van skool waarvan jy die minste hou?
Toneel. En Wiskunde.
Indien Bloemhof ’n sesde waarde by OWARI kon voeg, wat sou dit wees? En hoekom juis daardie waarde?
Samewerking, die rede hoekom Bloemhof werklik werk. Niemand doen enigiets alleen nie, daar is samewerking in alles wat ons aanpak. Ek sien samewerking as die sesde waarde van Bloemhof, omdat dit elke leerder laat voel asof sy deel van iets groter is. Daar is altyd ’n helpende hand. Samewerking speel ’n sleutelrol in verskeie aspekte van die skool, soos kultuur, akademie en sport. Dit is juis danksy hierdie samewerking en spanwerk dat Bloemhof so uitblink en as een van die topskole beskou word.
As jy nou vir jou graad 8-self iets kon sê, wat sou dit wees?
Ek sou vir my graad 8-self sê dat sy nog haar plek in die skool sal vind en dat sy net geduldig moet wees. Sy gaan nog soveel van haarself ontdek, sy moet net aanhou om haar beste voet voor te sit. Daar is soveel wat op haar wag, dinge waarvan sy nie eens nou kan droom nie. Sy gaan nuwe passies ontwikkel in dinge waarin sy nooit voorheen belang gestel het nie, en sy gaan uiteindelik ’n tweede familie by die skool vind. Ek hoop net sy weet: die beste lê nog voor.
Lise, wat beteken dit vir jou om ’n "Bloemhoffer" te wees?
Om 'n Bloemhoffer te wees is om deel van iets groter as jyself te wees. ’n Bloemhoffer is dankbaar om omring te wees met mense wat mekaar ondersteun in die strewe na uitnemendheid. ’n Bloemhoffer is nie tevrede met gemiddeldheid nie en probeer altyd ander rondom haar ophef. Daarom vier ’n Bloemhoffer nie net haar eie prestasies nie, maar put sy net soveel vreugde daaruit as haar susters goed doen.
Wat is die lekkerste deel van skool? En dan die omgekeerde… Wat is die deel van skool waarvan jy die minste hou?
Die saamdoen-aktiwiteite in Bloemhof is vir my ’n hoogtepunt. My eerste ervaring daarvan was vier jaar gelede tydens die graad 8-verwelkomingsweek waar ons besef het hoe afhanklik ons as jaargroep van mekaar is. 4M en Prestige Atletiek, Wintersweek en, natuurlik, Interskole vorm deel van die lekkerste oomblikke van saamdoen. Die opwinding van massabank en geesweek sal menigte Bloemhoffer vir altyd as hoogtepunte onthou. Ek hou die minste daarvan om afskeid te neem. By Bloemhof beweeg ’n mens deur verskillende fases van ontwikkeling en ontmoet jy ’n verskeidenheid mense. Om afskeid te neem, of dit nou van ’n onderwyser of ’n goeie vriendin is, is nie maklik nie. 'n Bekende klaskamer gee sekuriteit, maar soms is dit ook nodig om na ’n nuwe omgewing aan te beweeg om hoër hoogtes te bereik. Dis met ’n traan in die oog dat ek elke jaar by uitstapdag ’n blom aan ware sussies oorhandig.
Indien Bloemhof ’n sesde waarde by OWARI kon voeg, wat sou dit wees? En hoekom juis daardie waarde?
Ek sal “Susterskap” as ’n sesde waarde aanbeveel. Susterskap het al so deel van ons alledaagse lewe geword dat ’n mens kan sê dis deel van Bloemhof se DNS. Hierdie waarde van ondersteuning en meelewing tussen Bloemhoffers is sigbaar en gee vir Bloemhof ’n unieke identiteit.
As jy nou vir jou graad 8-self iets kon sê, wat sou dit wees?
Ek sou vir my graad 8-self gerusstel deur vir haar te sê dat terugslae en struikelblokke in haar skoolloopbaan normaal is. Dit vorm boustene vir die persoon wat sy uiteindelik gaan wees as sy die skool verlaat. ’n Teruslag mag nooit die einde van ’n droom beteken nie, maar behoort eerder ’n lewensles te wees om uiteindelik die droom te bereik. Selfs al word oorspronklike drome nie waar nie, help hierdie ervarings jou om in die toekoms ander uitdagings suksesvol te oorkom. Daarom sal ek die graad 8-Lise aanmoedig om nie ’n geleentheid te laat verby gaan waaroor sy later spyt sal wees nie.
Jo-Vene, wat beteken dit vir jou om ’n "Bloemhoffer" te wees?
Om ’n Bloemhoffer te wees, beteken om deel te wees van ’n trotse en hegte gemeenskap. Dit beteken dat ek die waardes van die skool uitleef, soos respek, dissipline en verantwoordelikheid. As Bloemhoffer kry ek die geleentheid om nie net akademies te groei nie, maar ook in sport en kultuur my talente te ontwikkel. Dit beteken dat ek vriendskappe kan bou wat vir altyd sal hou en dat ek saam met ander leerders as ’n span kan staan. Vir my is dit ook ’n groot voorreg om die naam van my skool met trots en waardigheid te dra en om te weet dat ek voorberei word vir ’n suksesvolle toekoms.
Wat is die lekkerste deel van skool? En dan die omgekeerde… Wat is die deel van skool waarvan jy die minste hou?
My oggend Marimbas sal vir altyd die beste en lekkerste gedeelte van skool wees. Dis iets kleins, maar ek het ALTYD daarna uitgesien. Ek het baie hegte vriende daardeur gemaak. Asook om tydens Interskole die koor te hoor sing en die debat te hoor. Die kultuur was altyd lekker!
Die deel waarvan ek die minste gehou het? Die akademiese druk. Veral hoe die eksamen- asook toetsroosters soms opgestel is. Dit het baie druk op baie leerders gesit, myself ingesluit. Ons het natuurlik daaruit geleer en gegroei, maar in die oomblik was dit sleg.
Indien Bloemhof ’n sesde waarde by OWARI kon voeg, wat sou dit wees? En hoekom juis daardie waarde?
Ek hou van die uitspraak van OWARI, so toe dink ek ’n mens kan dit onveranderd hou deur ’n “E” aan die einde by te voeg. Ek voel die volgende is baie gepas, veral omdat hoërskool nie die maklikste tydperk in jou lewe is nie, maar juis van die lekkerste vyf jare behoort te wees. “Eensgesindheid” – om in harmonie saam met ander te werk met gedeelde waardes en doelwitte. Of “Energie” – die bereidwilligheid en krag om take met lewenslus en ywer aan te pak. Of selfs “Entoesiasme” – ’n positiewe, opgewonde houding teenoor mense, werk of uitdagings.
As jy nou vir jou graad 8-self iets kon sê, wat sou dit wees?
BEGIN NOU AL LEER VIR SKEINAT EN BIO! Ek lag nou, maar op ’n ernstiger noot: Moet nooit bang wees om jouself te wees nie. Jy hoef nie in te pas deur iemand anders te probeer wees nie; jou eie unieke self is genoeg. Werk van die eerste dag af hard, want elke toets, elke taak en elke les bou jou vir die toekoms. Moenie wag tot later om ernstig te raak nie, begin nou al.
Ek sou ook sê: gebruik elke geleentheid wat jy kry, of dit sport, kultuur of leierskap is. Jy weet nooit waar jy jou talente en passies gaan ontdek nie. En as jy sukkel, moenie stilbly nie. Vra hulp by jou onderwysers, jou vriende of selfs by jou familie.
Onthou om balans te behou: skool is belangrik, maar jou geluk en jou herinneringe tel net so baie. Maak tyd vir jou vriende en geniet die mooi oomblikke, want die tyd gaan vinniger verby as wat jy dink.
So, graad 8-ek: wees positief, glo in jouself en geniet elke oomblik van hierdie reis – want jy gaan besef dis van die mooiste jare van jou lewe.
Gabbi, wat beteken dit vir jou om ’n "Bloemhoffer" te wees?
Voor ek Bloemhof toe gekom het, het ek gedink dat almal in Bloemhof net dieselfde soort toppresteerder in akademie en sport is. Ek besef nou dat “Bloemhoffer” nie nét één ding is nie. Dit maak nie saak wat jou passie is nie, Bloemhof ondersteun jou in elke manier moontlik. ’n “Bloemhoffer” is iemand wat passievol is en nie bang is om die moeilike dinge van die lewe aan te pak nie.
Wat is die lekkerste deel van skool? En dan die omgekeerde… Wat is die deel van skool waarvan jy die minste hou?
My gunstelingdeel van skool is om verhoudings te kan bou met die mense rondom my. Die vriende wat ek in Bloemhof gemaak het, is die tipe mense wat ek glo jy net een keer in jou lewe raakloop, en ook net as jy gelukkig is. Hoe bevoorreg is ek nie om sommer ’n klomp van hulle te hê nie. My onderwysers het nie net vir my teorie aangebied nie, maar het ook vir my ’n veilige plek gegee waar ek myself kon uitdruk en meer van myself leer.
Oor die minder lekker deel van skool kan ek nou seker ’n generiese antwoord gee soos dat ek nie daarvan hou om huiswerk te doen of vroeg op te staan nie, maar as ek eerlik is, sal ek moet sê: Die ding waarvan ek die minste van skool hou, is dat ek nie in die klas koffie mag drink nie.
Indien Bloemhof ’n sesde waarde by OWARI kon voeg, wat sou dit wees? En hoekom juis daardie waarde?
Geduld. Ek glo geduld is een van die moeilikste, maar belangrikste waardes en eienskappe wat ’n persoon kan hê. ’n Mens moet geduldig met ander en jouself wees as jy sukses wil bereik. Ek glo hierdie sou ’n belangrike waarde wees om in Bloemhof na te streef juis omdat ons leerders hul beste wil doen en in daardie proses vind ’n mens jouself gedurig in ’n posisie waar jy te streng en ongeduldig met jouself is.
As jy nou vir jou graad 8-self iets kon sê, wat sou dit wees?
Ek sou vir haar sê dat niks so moeilik is soos wat jy dink nie. Sy moenie bang wees om haarself te druk en nuwe goed te probeer nie. Ek sou ook vir haar sê dat sy nie moet voel dat sy perfek moet wees nie. Dit gesê, moet sy ook nie van ander verwag om perfek te wees nie. Mense maak foute, maar hoe hulle dit regstel, is wat werklik tel.
Bea, wat beteken dit vir jou om ’n "Bloemhoffer" te wees?
Om ’n Bloemhoffer te wees, is om ten alle tye die beste weergawe van myself na te streef in ’n liefdevolle ruimte, omring deur susterskap.
Wat is die lekkerste deel van skool? En dan die omgekeerde… Wat is die deel van skool waarvan jy die minste hou?
Ek is mal daaroor om rondom mense te wees en dit is vir my ’n groot voorreg om elke dag met ’n verskeidenheid mense in Bloemhof te werk. Die slegste deel… Dubbel periodes (tensy dit Geskiedenis is).
Indien Bloemhof ’n sesde waarde by OWARI kon voeg, wat sou dit wees? En hoekom juis daardie waarde?
Vertroue. Ek glo dat vertroue in jouself, vertroue in jou geloof en vertroue in die susterskap rondom jou in Bloemhof ’n kardinale rol in jou ontwikkeling as ’n leerder sowel as ’n volwassene speel.
As jy nou vir jou graad 8-self iets kon sê, wat sou dit wees?
Moet nooit in jou eie vermoëns twyfel nie en wees te alle tye jouself.
Amelie, wat beteken dit vir jou om ’n "Bloemhoffer" te wees?
Om ’n Bloemhoffer te wees, beteken dat jy jou navy skoolbaadjie langs die atletiekbaan dra, ten spyte van die hitte. Dit beteken dat jy sal help om ’n mede-Bloemhoffer se Duitse vlegsels te vleg, al ken jy hulle van geen kant af nie. Dit beteken dat jy die Bloemhof-trots voel wanneer die skoolliedwysie op die klavier tydens ’n saalbyeenkoms begin speel. Om ’n Bloemhoffer te wees, is nie net iets om oor te spog nie, dit is ’n gevoel. ’N Gevoel wat slegs gevoel kan word wanneer jy werklik Bloemhof “beleef”.
Wat is die lekkerste deel van skool? En dan die omgekeerde… Wat is die deel van skool waarvan jy die minste hou?
Niks maak my só opgewonde soos ’n massabank, geesbou-week of die 4M-kreet nie! Bloemhof se gees het vir my nog altyd bo die res van die ander skole uitgestaan, en dit laat my sommer trots voel om net daaraan te dink. Die gevoel van passie, susterskap en trots wat ek tydens enige geesbou-aktiwiteit ervaar, sal ek vir niks verruil nie.
Die een ding waarvan ek die minste van skool hou, is die feit dat ons vir ses ure lank elke dag ’n swaar rugsak vol handboeke en werkboeke moet ronddra. Tegnologie word al hoe meer geïmplimenteer by skole reg oor die wêreld, en aanlyn studiegidse is 100% meer gerieflik as ’n dik, swaar handboek. Dit sal definitief baie tyd en moeite spaar, asook meer doeltreffend wees, vir leerders en onderwysers, as die leerders tegnologie kan gebruik om hul werk makliker te voltooi. Dit is meer eko-vriendelik, en ek glo dat geen tiener meer met ’n swaar skoolsak sal rondstap nie.
Indien Bloemhof ’n sesde waarde by OWARI kon voeg, wat sou dit wees? En hoekom juis daardie waarde?
’n Sesde waarde wat ek by OWARI sou voeg, is eerlikheid. Alhoewel die woord OWARIE steeds dieselfde as OWARI uitgespreek sal word, is eerlikheid ’n waarde wat in elke skoolverwante omgewing toegepas kan word. Om eerlik te wees met ’n onderwyser, vriendin of selfs jouself is ’n lewensvaardigheid wat jou slegs kan bevoordeel in enige situasie.
As jy nou vir jou graad 8-self iets kon sê, wat sou dit wees?
Geniet elke geleentheid wat Bloemhof bied, en pak elke situasie met ’n glimlag en ’n positiewe gemoed aan. Neem foto’s van alles, want hierdie vyf jaar vlieg vinnig verby! Raak betrokke by sport, kultuur of probeer iets heeltemal nuuts. Die belangrikste ding wat ek vir my graad 8-self kan sê, is om selfvertroue te hê. Jy hoef nie alles “uitgefigure” te hê nie; daag net op, deel jou opinies en probeer jou beste!
Welkom, juffrou Steenkamp!
EN BABA BALT – BERNARD – IS OOK HIER!
STEPHAN MEYER
Aan die einde van verlede kwartaal het ons vir mej. Monique Taljaard gegroet, maar kon haar weer as mev. Monique Steenkamp terugverwelkom. Sy is tydens die vakansie met Divan Steenkamp getroud – veels geluk!
Mev. Liezl Balt is ook terug nadat sy in Februarie op kraamverlof gegaan het. Sy en haar man JB is ’n pragtige seuntjie, Bernard, ryker.
Sport: Terugblik op vakansietoernooie
NETBALSPELER, DRIE HOKKIESPELERS IN SA-SPANNE
STEPHAN MEYER
Met die derde kwartaal wat goed op dreef is, is daar báie sportnuus om te dek. Ons deel in hierdie uitgawe die Julie-hoogtepunte en fokus in ons volgende uitgawe op die drie nasionale hokkietoernooie waar Bloemhof se o.14, o.16 en o.19A-spanne puik presteer het, asook die hoogtepunt wat vanjaar se Interskole was.
NETBAL

Talle Bloemhof-netbalspelers het tydens die Julie-vakansie aan nasionale en streekstoernooie deelgeneem en veral drie Bloemhoffers het beïndruk:
Simoné Dry (gr. 12) is as deel van die o.19 NSA-oefengroep geïdentifiseer waaruit ’n span gekies sal word om in Desember aan die Region 5-jeugspele deel te neem.
Tachin Adams (gr. 11) is in die SA o.17 se top 35-squad opgeneem. Sy is ook deel van die Wes-Kaapspan wat derde by die All Ages-toernooi eindig.
Lisa Steenkamp (gr. 10) verwerf haar nasionale kleure en is tot die die SA o.16-span verkies – ’n baie groot prestasie.



Die Wes-Kaapspanne neem aan die All Ages-toernooi deel waar dié netbalspanne met Bloemhof-spelers die volgende uitslae behaal:
Annemie du Plessis (o.14 Oaks) – 3de
Mila-Mari Bolz (o.14 Cedars) – 7de
Dalinda Nel (o.15 Oaks) – 5de
Lisa Steenkamp (o.16 Cedars) – 9de
Tachin Adams (o.17 Cedars) – 3de
Nell Basson (o.18 Cedars) – 1ste
Mariaan Bruwer (o.18 Willows) – 7de
By die Interdistriktoernooi draf ’n aantal Bloemhoffers vir die Kaapse Wynlande uit. Hul netbalspanne behaal almal podiumplekke:
o.14: Minki Human en Nikki Janse van Rensburg – 2de
o.16: Mi-Ly van der Merwe en Lilah Meyer – 2de
o.17: Lia Kotze – 3de
o.18: Mila Bester en Simoné Dry – 1ste
Simoné het ook die Wynlande se o.18-span by die Telkom Netball Challenge verteenwoordig waar hulle span 3de geëindig het.
Bloemhof o.16A’s eindig 7de nasionaal!
Bloemhof se o.16A-netbalspan het ’n nasionale 7de plek by die 2025 SASN nasionale kampioenskap verower toe hulle in Boksburg, Gauteng, gaan deelneem het.
Die span het hul uitspeelwedstryde almal gewen, maar teen Johannesburg se Helpmekaar Kollege vasgeval. In ’n naelbytstryd verloor hulle net-net teen Paarl Gim, maar wen weer hul laaste wedstryd teen die Noord-Kaapse Hoërskool Duineveld. Hul volledige uitslae is soos volg:
wen Sikhulule Sekondêr 15-2
wen Danville Park GHS 13-7
wen HS Ben Vorster 15-11
wen Kwetlisong Sekondêr 18-9
verloor 7-16 teen Helpmekaar Kollege
verloor 13-15 teen HS Paarl Gimnasium
wen HS Duineveld 14-7 om 7de te eindig.
Veels geluk aan die span en hul afrigter, me. Zelda Botha! Ons sê ook dankie aan die spanbestuurder, me. Lida de la Bat, en al die ouers wat saamgereis het.
HOKKIE
Dit was ’n belowende Julie-vakansie vir die Bloemhof-hokkiespelers en drie van ons leerders het SA-kleure verwerf.
Veels geluk aan ons hokkiekaptein, Elré Oosthuizen (gr. 12) wat in die SA o.18B-span opgeneem is. Twee graad 9-Bloemhoffers, Zani Boezaart en Klara-Lea Basson het die SA o.16A-span gehaal – voorwaar ’n groot prestasie!
Hulle het, saam met ’n aantal ander Bloemhof-spelers, die Boland in interprovinsiale toernooie verteenwoordig waar hul hokkiespanne die volgende uitslae behaal:
Elré Oosthuizen (o.18A) – 1ste plek
Emeri Botes, Lise de Villiers en Nina Stanich (o.18B) – 3de plek
Klara-Lea Basson en Zani Boezaart (o.16A) - 3de plek
Elaine van Harte en Madelie Botes (o.16B) - 10de plek
Jesse Nieman en Lila Pienaar (o.14A) – 3de plek
Bella Grobbelaar, Manina Stofberg en Mila Moolman (o.14B) – 1ste plek.
Die Boland se C-spanne het aan streekstoernooie deelgeneem waar die o.16C-span (met Carli Bayer en Micha de Wet) 5de eindig en die o.14C-span (met Isabella du Toit) 2de eindig.
Klara-Lea Basson is boonop by die ITP's as die toernooi se beste o.16-verdedigende speler aangewys en al drie Boland o.14-spanne spog met Bloemhof-kapteine: Lila (o.14A), Bella (o.14B), en Isabella (o.14C).
TENNIS
Bloemhof het vanjaar ’n hele aantal tennisspelers in die Boland Cavelierspan, en dié span het tydens die Julie-vakansie teen die WP gespeel.
Mia Pecoraro, Jana Steyn, Lara van der Vyver, Megan Mackie en Lisa Jonker verteenwoordig die o.15-Bolandspan, wat die WP 72-69 wen.
Die spelers in die o.19-span – Marlia Nel, Lara Potgieter, Mari-Anna van Rooyen en Petà Kruger – het ook die WP gemaklik gewen toe hulle op 21 Julie kragte gemeet het.
Dit was weer ’n vakansie vol tennistoernooie vir die HMS Bloemhof se Milla Kotze (gr. 11).
Sy neem eers aan die WTA W15-tennistoernooi in Hillcrest, KZN deel waar sy ongelukkig nie vir dié professionele toernooi se hoofrondte enkels kwalifiseer nie. In die hoofrondte dubbels vorder sy en haar spanmaat tot die kwarteindrondte waar hulle teen die uiteindelike kampioene die knie moes buig.
Daarna reis sy na Windhoek waar sy saam met drie ander jong vroue Suid-Afrika by die Region 5-Jeugspele verteenwoordig – Milla is heel links op die foto. Sy keer met drie medaljes terug: Goud vir spankompetisie, goud vir die gemengde dubbels en brons vir vrouedubbels. Dis ’n báié groot prestasie, Milla! Veels geluk!
Tydens die wintervakansie het Bloemhof se Jonker-sussies Ella (gr. 9) en Lisa (gr. 8) aan verskeie tennistoernooie deelgeneem.
Albei kraai koning in die Ethekwini Grand Prix, met Ella wat die o.16- en Lisa wat die o.14-afdeling wen. Daarna het Ella 5de in die Durban Amex Super 8 geëindig. Lisa het ongelukkig in die finaal verloor.
By die Gauteng Super 8-tennistoernooi eindig Lisa 2de in die o.14-afdeling terwyl Ella derde in die o.16-afdeling eindig.



SWEM
Die afgelope swemseisoen het Bloemhof se swemmers nie net die skool met trots tydens die Boland Liga, Super Schools Swim-off, Speedo Super Schools, 4M en Interskole teen Oranje verteenwoordignie, maar ook in die Swem Suid-Afrika se streeks- en nasionale byeenkomste.
Bloemhof se swemkaptein, Jana Lombard (gr. 12), het die Wes-Kaap se senior provinsiale span by die Senior Nasionale Kampioenskappe in Gqeberha (Port Elizabeth) verteenwoordig. Dié byeenkoms bied aan swemmers die heel hoogste vlak van kompeterende swem in die land. Alhoewel Jana die semi-finaal in die 50m-vlinderslag en 50m-rugslag naelskraaps mis, teken sy in vyf van haar ses individuele items persoonlike beste tye aan.
Die Junior Nasionale byeenkoms is by die Universiteit van Wes-Kaapland gehou en verteenwoordig die land se hoogste vlak van kompetisie in ouderdomsverband. Ook hier presteer Bloemhoffers baie goed en al ons swemmers het by hierdie byeenkoms ten minste een finale in hulle onderskeie ouderdomsgroepe gehaal:
Maric de Roubaix (gr. 12) – 4de in die 1500m-vryslag
Jana Lombard (gr. 12) – 5de in die 50m-vlinderslag
Mi-Ly van der Merwe (gr. 10) – 7de in die 200m-rugslag en 9de in die 50m-rugslag.
Arné Dreyer (gr. 9) – 10de in die 100m-borsslag
Amy Beetge (gr. 12) het die kwalifiserende tyd vir die Junior Nasionale byeenkoms net-net gemis, maar het aan die Vlak 3-byeenkoms deelgeneem en twee goue medaljes verower: in die 100m- én die 200m-borsslag.
Nog ’n Bloemhoffer wat golwe maak, is Kay-Lee Mouton (gr. 10).
Kay-Lee is deur die Tapergo Aquatics Swemklub aangewys as die beste ope-water swemmer vir die 2024/25 seisoen. Hierdie eer het haar te beurt geval nadat sy die Wes-Kaap by die Suid-Afrikaanse Nasionale Ope-waterkampioenskappe in Maart vanjaar verteenwoordig het. Hier het sy die ouderdomsrekord gebreek het toe sy die jongste persoon geword het om die 33 km oor Valsbaai – van Viller’s Point tot in Rooiels – te swem.
ATLETIEK
Daniela Viljoen (gr. 11) was deel van die SA span wat in Julie aan die Afrika Jeugkampioenskappe deelgeneem het. Saam met haar span wen sy ’n silwer medalje in die Sweedse aflos.

BUITESPORT
Danae Storm (gr. 10) het aan die begin van Augustus aan die Wynlanddistrik Gimnastiekkompetisie (vlak 9) deelgeneem, waar sy die eerste plek op die brug en ’n algehele derde plek behaal het. By die provinsiale kompetisie in Saldanhabaai verteenwoordig sy die Wynlandspan waar sy weer ’n algehele derde plek – en haar Wes-Kaapkleure – verower. Volgende aan die beurt is die nasionale kompetisie wat op 6 Oktober in Gauteng plaasvind. Ons wens jou sterkte toe, Danae!
By die Nasionale Binnenshuise Boogskietkompetisie het Layla Viljoen (gr. 10) die eerste plek ingepalm en daarmee saam haar SA-kleure verwerf. Veels geluk, Layla!
Simone van der Merwe (gr. 11) het aan die Wes-Kaap Baithle en Triathle Kampioenskappe deelgeneem en ’n 2de plek in albei vir meisies o.19 behaal. Sy kwalifiseer vir die SA Kampioenskappe wat in Oktober in Nelspruit plaasvind.

Katja de Villiers (gr. 11) het vir die Suid-Afrikaanse o.18-raakrugbyspan in Limerick, Ierland uitgedraf toe hulle aan die einde van Julie aan die Atlantic Youth Cup deelgeneem het. Dié span haal die semi-finaal, waar hulle nouliks teen Frankryk verloor. In die stryd om die derde plek, behaal die Suid-Afrikaners ’n oorwinning van 7-6 oor Walles om met brons medaljes terug te keer.
Netbal
Netbal teen HMS La Rochelle (25 Julie 2025)
o.14A verloor 16-18, o.14B wen 22-9, o.14C wen 14-13, o.o.14D wen 31-5, o.14E wen 14-12, o.14F wen 21-4, o.14G wen 19-1, o.14H wen 11-4
o. 15A speel 19-19 gelykop, o.15B wen 24-13, o.15C wen 29-11, o.15D wen 27-8, o.15E wen 9 - 5
o. 16A wen 24-14, o.16B wen 24-10, o. 16C wen 29 -6
o. 17A wen 27- 8, 17B wen 31-20
o. 19B verloor 19-20
Netbal teen HS Stellenbosch (25 Julie 2025)
o.15F wen HS Stellenbosch o.15C 17 - 6, o.15G wen 13-3 teen HS Stellenbosch o.14D, o.15H verloor 3-10 teen HS Stellenbosch o.14E,
o.16F wen HS Stellenbosch o.15D 20-0
Netbal teen Barnard Castle School (toerspan – 30 Julie 2025)
o.16C wen 34-6, o.17C wen 35-12
Netbal teen Rhenish GHS (Wintersweek – 1 Augustus 2025)
o.14A wen 18-14, o.14B wen 17-5, o.14C wen 20-0 ,o.14D wen 23-3
o.14E wen 17-1, o.14 F wen Rhenish o.14C 11-3 teen, o.14G speel 10-10 gelykop teen Rhenish o.14D, o.14H verloor 2-13 teen Rhenish o.14E
o.15A wen 20-9, o.15B wen 23-3, o.15C wen 30-0, o.15D wen 27-1 ,o.15E verloor 7-10 teen Rhenish o.15B ,o.15F wen Rhenish o.15C 6-3, o.15G wen Rhenish o.15D 15-7, o.15H wen Rhenish o.15E 10-6
o.16B verloor 8-14 teen Rhenish o.16A, o.16B wen 17-4, o.16C wen 24-9 ,o.16D wen 12-5, o.16 E wen Rhenish o.16C 17-3, o.16 F wen Rhenish o.16D 11-2 ,
o.17A wen 22-10, o.17B wen 25-7, o.17C wen 24-3, o.17D wen Rhenish o.17B 12-9
o.18A wen 37-11, o.18B wen 22-13, o.18C verloor 8-16 teen Rhenish o.18B
Netbal teen HS Durbanville (2 Augustus 2025)
o.14B wen 21-18, o.14C gelykop 13-13, o.14D wen 18-11, o.14E wen 22-7, o.14F wen 31-2
o.15C verloor 15-16, o.15 D verloor 11-17, o.15E verloor 9 - 23, o.15F verloor 4 - 10, o.15G wen 25 - 5
o.16C verloor 11-24, o.16D verloor 18-31, o.16E verloor 11-17
o.17B wen 25 -18, o.17C wen 26-17, o.17D wen 29-5
o.18A wen 35-23, o.18B verloor 20-25, o.18C verloor 12-20, o.18D verloor 17-25
Netbal teen HS Bellville (8 Augustus 2025)
o.14A wen 38-10, o.14B wen 43-3, o.14C wen 31-12, o.14D wen 36-3, o.14E wen 28-3, o.14F wen 32-1, o.14G wen 18-8, o.14H verloor 8-10
o.15A wen 21-20, o.15B wen 22-13, o.15C wen 34-7, o.15D wen 26-9, o.15E verloor 12-14, o.15F wen 19-7, o.15G verloor 2-20 teen Bellville o.15E, o.15H verloor 6-10 teen Belville o.15F
o.16A wen 31-14, o.16B wen 24-13, o.16D wen 21- 13, o.16D wen 21-18, o.16E wen 25-3, o.16F wen 26-3
o.17A wen 22-14, o.17B wen 28-8, o.17C wen 47-3, o.17D wen 22-9
o.18A wen 34-23, o.18B wen 30-17, o.18C speel 17-17 gelykop, o.18D speel 17-17 gelykop
Hokkie

Hokkie teen Wellingborough, Sevenoaks & Barnard Castle (Britse toerspanne – 24, 26 & 30 Julie 2025)
o.19B wen Wellingborough 4-0
o.16A wen Sevenoaks 13-0, o.19A wen Sevenoaks 5-1
o.16C speel 0-0 gelykop teen Barnard Castle 0-0, o.19C wen Barnard Castle 2-0
Hokkie teen HMS La Rochelle (25-26 Julie 2025)
o.14A wen 1-0, o.14B wen 2-0, o.14C wen 5-0
o.16A wen 3-0, o.16B wen 2-0, o.16C wen 11-0, o.16D wen 6-0
o.19B wen La Rochelle o.19A 2-0, o.19C wen 3-0
Hokkie teen Springfield Convent (30 Julie 2025)
o.14A wen 1-0, o.16A wen 4-0, o.19A wen 1-0
Hokkie teen Rhenish GHS (Wintersweek – 1 Augustus 2025)
o.14A speel 1-1 gelykop, o.14B wen 1-0, o.14C wen 2-1
o.16A wen 3-1, o.16B speel 1-1 gelykop, o.16C verloor 0-1, o.16D wen 2-0
o.19A verloor 0-1, o.19B wen 2-1, o.19C wen 1-0
Hokkie teen HS Bellville (8-9 Augustus 2025)
o.14B verloor 2-0
o.16B wen 1-0, o.16C wen 7-0, o.16D wen 5-0
o.19C wen 2-1, o.19D wen 3-0
Vakatures beskikbaar
Bloemhof adverteer tans ses vakatures – help ons asb. om die regte kandidate te bereik deur ons advertensie op ons sosiale media te deel of om die onderstaande advertensie aan potensiale kandidate te stuur.
Phoenix: Civviedae en insamelings vir res van 2025
Baie dankie aan elke ouer en leerder wat ’n bydrae tot ons vorige civviedag ten bate van CANSA gemaak het. Saam met die Cuppa for CANSA-damestee is daar ’n ongelooflike R120 000 ingesamel! Meer hieroor word in die volgende uitgawe van die Bloemhof Brokkies gedeel.
Ons laaste civviedag vir die jaar, 5 September, ondersteun die Alta du Toit-skool. Hulle hou op 20 September ’n Fun Run, en Bloemhof se atletiekspan en komitees gaan ook daar deelneem en ’n bydrae maak.
Ons groot insameling vir Kwartaal 3 is weer vir Nagskuiling. Vir die afgelope agt jaar ondersteun Bloemhof hierdie projek deur items vir hul Kerspakkies in te samel. Dankie solank aan elkeen vir julle ondersteuning – elke klasleier het reeds die lys ontvang vir die Kerspakkies.
Voorskou: Oktober is Borskankerbewusmaking
Ons gaan solank begin met die bewusmaking van Borskankermaand. In Oktober gaan Bloemhof die I Love Boobies-projek ondersteun deur onder meer die insameling van “gently-used-bras”.
Rig gerus enige navrae aan me. Venessa de Beer by venessa@bloemhofschool.co.za
Speletjiesaand: Kom deel in die pret!
Die Bloemhofbond se jaarlikse pa-en-dogter-speletjiesaand is om die draai! Kaartjies is HIER via Quicket beskikbaar.
Om in die Bloemhof Brokkies te adverteer, kontak asb. vir mnr. Stephan Meyer by kommunikasie@bloemhofschool.co.za. Meer inligting oor advertensiegeleenthede en kostes is HIER beskikbaar.
Die DBO hou hul jaarlikse uitnemendheidstoekennings, en raai wie is weer #1?!
Ons gesels met ons nuwe hoofleiers
Interskole: hier is die hoogtepunte
Ons doen moeite om die Bloemhof Brokkies so akkuraat as moontlik te publiseer, maar rapporteer asb. foute, deel nuus of gee algemene terugvoer HIER.
Help! Die Bloemhof Brokkies het werklik meer hande nodig. Leerders wat graag wil help om stories te skryf, kan vir dr. Revington (marietjie@bloemhofschool.co.za) kontak of haar in kamer 26 besoek. Fotograwe kan met mnr. Stephan Meyer (kommunikasie@bloemhofschool.co.za) gesels.
Baie dankie aan hierdie uitgawe se medewerkers – almal wat gehelp skryf het, foto’s verskaf het en met die proefleeswerk gehelp het.
Redakteur en samesteller: mnr. Stephan Meyer – stuur gerus ’n e-pos aan kommunikasie@bloemhofschool.co.za om in verbinding te tree.













































